Thursday, March 28, 2013

Ken Barris - Evolution - a novel (1998)



Ken Barris. Evolution - a novel. Zebra Press, 1998. ISBN 1 86872 248 1.

Resensent: Joan Hambidge

Ken Barris se The jailer's book (1997) het verlede jaar tereg die M-N-boekeprys in die Engelse kategorie verower. Vir sy kortverhaalbundel Small change (1988) het hy die Vita-toekenning otvang en as digter die Ingrid Jonker-prys vir An advertisement for air (1993).

Sy jongste roman Evolution - a novel. In die kolofon word vermeld dat Dineke Volschenk die redakteur was van hierdie roman. Sy het al uitstekende werk gedoen veral met André Letoit se romans.

Evolution is 'n interessante roman. Dit werk teen die agtergrond van die leser se kennis van evolusie en : die roman is ook 'n proses van evolusie wat 'n mens meemaak. Jessica Kruger besluit om te skryf oor oupa, Eugene se geheime liefdesverhouding met die “bediende” Jolene Galant. Eugene is 'n dosent aan onderwyskollege in Franschoek.

Die tyd is 1937 en dit aktiveer Afrikaner-Nasionalisme, die Tweede Wêreldoorlog en Afrikaner-mores op sy  ergste. Eugene is nie alleen besig om die kerk en die gemeenskap se religieuse waardes te “ondermyn” nie, maar hy is ook besig om 'n verhouding, en daar is vir hom werklik liefde op die spel, met die bruinvrou, Jolene te hê.

Ook sy vrou Anfra word helder geteken as 'n gerepresseerde Afrikaner-nooi. Die eerste seksuele ervaring met haar warmbloedige eggenoot is 'n teken van Barris se vermoë om suggestief te kan skryf(p. 87).

Ons het in wese drie verhale in hierdie roman wat evoluerend op mekaar inwerk. Die kleindogter Jessica se verhaal (1996). Sy het 'n verhouding met 'n swart man, te wete Teboso Ngqayimbana (haar antropologie dosent). Die ontmoeting tussen hom en haar ouers, 'n klassieke “guess who's coming to dinner” aktiveer 'n steeds voortslepende konserwatisme in hierdie land.

Jessica het 'n ander blik op sake. En dit maak haar dan opgewasse vir die skryftaak en navorsing oor die familiegeheim, te wete die oupa se liefdesvergryp. Op 'n slim manier aktiveer Barris dan ook die historiografie en in welke mate moderne geskiedskrywing sterk oraal gebaseer is en werk met her-skrywing. In die derde en laaste afdeling besoek sy die ou vrou, Jolene en háár perspektief op die gebeurde is weer anders as wat Eugene dit ervaar het of Jessica dit wil neerskryf.

Tussendeur is daar ook die leser wat al-lesende meemaak aan hierdie proses van evolusie. Nie alleenlik is die geskiedenis en sieninge oor evolusie wat verander het nie, maar ook die leser se vashouplek op die storie wat voor hom/haar gekonstrueer word.

Die oupa word ter take geneem deur sy kollege wat hom tug oor sy moderne sieninge. Die leser van nou weet egter dat dit juis die kennis van evolusie is op alle vlakke wat tot gevolg het dat 'n mens hierdie spronge in tyd kan saam-lees. Elke stuk vertelling  verïroniseer of relativeer 'n vorige stuk “geskiedenis”. Elke mens onthou of wil onthou soos wat sy/haar ideologie dikteer.

En die outeur?  Ek meen dat hierdie roman vernuftige kommentaar lewer op die ewolusie-proses in die roman. In die laat-neëntiende eeuse roman is die skrywer aanwesig deur opsommende hoofstuk-titels, klein kommentare. In die laat twintigste-eeuse roman is die skrywer afwesig. Die leser word die skrywer wat die roman moet voltooi of “invul”.

Barris speel vernuftig met die tradisie van die roman. Die romanskrywer is nie meer soos Flaubert soos God orals aanwesig nie. Die moderne roman maak van die leser 'n medespeler en 'n klein godjie.

Moet egter nie bevrees wees nie. Dit is nie 'n geleerde roman wat die leser sal afskrik of vervreem nie. dit bly steeds 'n roman oor die menslike kondisie en daardie ewige emosie, naamlik die liefde, wat betekenis gee aan alles.

Vir my kry die roman werklik vaart vanaf die tweede afdeling. Die eerste gedeelte klink die karakters nog te veel na romankarakters wat “praat” asof hulle in 'n roman is.

Ken Barris is 'n romanskrywer om dop te hou. Hy skryf vir die intelligente én gewone leser. En dit is waarskynlik die werklike kuns van 'n goeie romanskrywer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]