Wednesday, March 6, 2013

Julian de Wette - Tussen duine gebore (2002)



Julian de Wette. Tussen duine gebore. Protea Boekehuis, 2002. ISBN 1919825 70 3.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Mens sou ten beste hierdie bundel as nostalgies kon beskryf. Daardie soort bundel waarin die digter ‘n bestekopname van die jeug en ‘n dikwels pynlike verlede maak. De Wette was vir lank ‘n banneling en in New York woonagtig soos die digter Casper Schmidt. Dit is die werk van die digter wat uit so ‘n vreemde domein skryf van “verban/verbinne”. So ‘n digter skryf ook dikwels in ‘n tussentaal of gebruik vreemd-argaïese begrippe juis weens hierdie ontheemding.

Tussen duine gebore is egter ‘n bundel van die terugkeer. Die noodwendige gevolg van so ‘n publikasie is dat dit dikwels outyds of anders mag klink, omdat die diskoers van die tyd die digter verbygegaan het. Maar hierin is daar ook ‘n soort sjarme opgesluit. Trouens, Elizabeth M. du Toit se Towertuin is juis hierom tersaaklik.

“Shakespeare in China” dra iets van die dubbelvisie oor. Dat die digterlike blik altyd iets van vervreemding en outsiderskap impliseer. Of dit nou Shakespeare in China is of Wagner in Bloemfontein: dit bly ‘n dubbel-blik, ‘n toestand van ‘displacement’. Soos die pianis Suid-Afrikaanse Marc Raubenheimer wat in New York optree en deur ‘n mede-landgenoot waargeneem word in Carnegie Hall.

Die bundel se aanslag is hoofsaaklik verhalend. In “Dorpslewe” word Wilma Stockenström aangespreek as ‘n mede-boorling van Napier. Dis natuurlik ‘n tegniek om die medemenslikheid en die aard van die dorpslewe te verbeeld. Dis ‘n gemoedelike vers, miskien nie skerp-satiries genoeg nie, en wat ook gelees moet word saam met Peter Blum gedig oor die onderwerp.

Die digter se aanslag is swoel. Hy gebruik baie woorde en geil beelde (“Teeltkeuse”) en die Bybel verskaf motto’s en wegwysers vir die gedigte. “Na waters waar rus is” (opgedra aan wyle Casper Schmidt), is ‘n gedig waarin daar fisies en spiritueel teruggekeer word na vele kronkelpaaie. “Diep in die skuld en onskuld” is ‘n gesprek met die vader wat herinneringe aan die Bybel, skool en die liefde van die oorlede vader oproep. Die kind onthou hoe hy soggens ‘n soen ontvang het deur die vader se skeerroom.

Die vers “Familieportret” is ook soos die voorafgaande vers, ‘n spieëlteks. ‘n Sterk navrante vers is “Boorlinge sonder etnisiteit”, wat ook verklaar waarom die digter in die buiteland moes woon. Apartheid en die kleinlike klassifikasie van Kleurlingmense was die rede hiervoor.

“Liefdemaak” is ‘n pragvers en die hele afdeling liefdesverse is werklik iets nuuts in hul idiomatiese aanbod. “Die waterkraan” is ‘n subtiele klag op die ongeregtigheid van armoede en juis omdat dit só onderspeel word, het die vers ‘n sterk effek:

langs die kraan waar die teewater vir ontbyt
in propvol emmers staan, die skottelgoedwaswater,
die leiwater, die drinkwater, die badwater, die doopwater.

“Gedenknaalde wat haak” neem ongeregtigheid ook na plekke buite hierdie land en “Die Napier-belydenis” kritiseer ook die kerk se rol in ons apartheidverlede. In “Nagmerriepraatjies: Armed Response” word die waansin en geweld van die nuwe Suid-Afrika gekritiseer, terwyl die opgeblasenheid van ministers ook nie ongestraf bly nie.

In sy blik op die landskap en diere, is die digter kennelik bly om terug te wees. Alles word in die kleinste besonderheid waargeneem. Daar is nie bitterheid by hierdie digter nie. Inteendeel. Die verse is sprankelend en dikwels ironies (soos “Uitnodiging”). ‘n Mens vind ook humor en speelsheid. Daar is ‘n handvol baie mooi verse. Soms, vir my gevoel dan, is die gedigte te wydlopig en woordoordadig. Die Bybelse ondertoon laai ook vele van die gedigte met ‘n spirituele dimensie sodat dit gelees kan word as ‘n boek van letterlike en innerlike tuiskoms.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]