Monday, March 25, 2013

Jeanette Ferreira - Charlotta (1999)



Jeanette Ferreira. Charlotta. Human & Rousseau, 1999. ISBN 0 7981 3908 0.

Resensent: Joan Hambidge

Ek het Jeanette Ferreira se jongste roman Charlotta tydens 'n slaaplose nag begin lees. Die uitgewerspampflet bemark Jeanette Ferreira as 'n populêre en ernstige skrywer. Maar nou lees ons:”Jeanette Ferreira se twee vorige romans wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel, Babette en Catharina, het menslike lotgevalle tydens hierdie oorlog na lesers gebring soos die datums en veldslae van dokumente dit nooit kan doen nie.” Is die soet gevoel dalk die laatnag vyekonfyttoebroodjie wat ek onder my tande proe?

Nee, want ons verneem verder:”Charlotta vertel vanaf die jaar voor die oorlog tot en met die vredesluiting, van bedrog en familietwis, van een vrou wat die oorlog met 'n Rooikruisvlag in haar hande en drif in haar siel tegemoetgaan.”

Die liriese intensiteit en passie is gewis daar. Dit is voorwaar 'n epiese verhaal maar sonder enige ironie of afstand. Deurentyd is die leser bewus van die enorme navorsing wat dit moes gekos het en dwing die historiese navorsing respek af, maar alles is so hooggestem, so histeries, dat die leser (en veral hierdie leser) dat die die vyekonfyt later aan alles begin vaskleef. Tag, dink jy: is dit die verdomde toebroodjie of die roman?

Jeanette Ferreira kon myns insiens 'n goeie roman geskryf het. Nou het sy iets geskep wat tussen 'n goeie populêre roman en ernstige roman deurval. 'n Mens kan nie twee literêre gode dien nie. Populêre skryfsters se ernstige werk word altyd deur 'n middelmoot-aanslag gekortwiek. 'n Mens kry dieselfde gevoel by Eleanor Baker wat dit slegs met Verbeelde werklikheid kon ontglip.

Maar as jy lus is vir iets op die vlak van 'n Gone with the wind is hierdie roman aan te beveel. Vir die leser wat onder meer respek had vir Ferreira se kampusroman en haar poësie, is Charlotta 'n boek vir die laatnag mét vyekonfyt en 'n nat lappie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]