Saturday, March 2, 2013

Ina Rousseau - Die stil middelpunt (2003)



Ina Rousseau. Die stil middelpunt: ‘n keur, met nuwe gedigte. Human & Rousseau, 2003. ISBN 07981 4361 4.

Resensent: Joan Hambidge

Jare gelede het die digter en literator T.T. Cloete verwys na die suinige hand waarmee Ina Rousseau, ‘n Hertzogpryswenner, gedigte skryf en publiseer. Dit is ‘n digterskap wat netjies afgeweeg en suiwer is. Daar is geen slordige, oorhaastige gedig in hierdie klein dog belangrike oeuvre nie.

Heeltemal korrek het Human & Rousseau ‘n versameling van haar gedigte met ‘n paar nuwe verse sopas gepubliseer: Die stil middelpunt. ‘n Meer gepaste titel kan ‘n mens nie vind nie. Rousseau se gedigte is soos Emily Dickinson se verse gedigte van die stil middelpunt, die epifaniese oomblik. Die ‘toweroomblik’ wat in die alledaagse skuil soos ‘n eekhoring wat ‘n stuk papier steel of  ‘n troebel liefdesverhouding met ‘n steppewolf wat na baie jare sy beslag kry.

Rousseau is ook ‘n belangrike kortverhaalskrywer waarin haar digterlike talente uitmuntend na vore kom. Die suur en soet van die lewe kan sy behendig saamplaas en die verhaal “Wat het geword van Helena Lem?” is een van my allergunstelingverhale.

Die versameling gedigte word goed ingelei deur die digter Daniel Hugo wat goed bekend is met haar digkuns. Versamelde gedigte 1954 – 1984 is uit druk, net soos die afsonderlike bundels. Die gedigte is grondig hersien deur die digter. Philip Larkin het ook dikwels ou verse in nuwe publikasies hersien en nuut aangebied. Dit is iets waarmee hierdie leser nie akkoord gaan nie. Die ouer digter is uiteraard altyd behendiger en vaardiger as die jong digter, maar daar is myns insiens iets sjarmants aan ‘n rou, eerste gedig van ‘n jong digter. Gestel Antjie Krog hersien Mannin of Johann de Lange keer terug na Waterwoestyn?

Dis egter my persoonlike keuse: stel ‘n versameling saam, maar behou die chronologiese ontwikkeling of ‘veroudering’ van die digterskap.

Die twintig nuwe verse is puik.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]