Friday, February 22, 2013

Zandra Bezuidenhout - Aardling (2006)



Zandra Bezuidenhout. Aardling. Protea Boekehuis, 2006. ISBN 1 86919 128 5.

Resensent: Joan Hambidge

Daar is verskillende maniere van poësie beleef en skryf. Om te dink dat alle digters op presies dieselfde wyse funksioneer, is ‘n dwaalleer. ‘n Mens hou dikwels van ‘n digter se “stem”, of jy kan  dit nie verduur nie. Antjie Krog se Verweerskrif, om ‘n bundel uit te sonder, bewys hoe lesers dink dat die digkuns bedoel is om oor die “skone” te handel, die “mooie”...

Daar is ook ‘n verskeidenheid van vrouestemme in Afrikaans aan die werk, tans.
In Aardling word verskillende fasette van vrouwees ondersoek. Hierom is die gedig “Falliese vrou” ‘n sentrale vers in die bundel. Dit betrek Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves, ‘n Jungiaanse studie van 1992, waarin verskillende argetipes van vrou-wees, beskou word. Hier is dit veral die aardling, die digter wat praat in konkrete terme oor die lewe in sy sinrykheid en teenstrydighede. By Pinkola Estés is daar die cantadora of storieverteller aanwesig: hier is die vertellinge oor die jeug, die moeder, grootmoeder, die dood, seksuele ontwaking en digterskap.

Daar is vier afdelings: In stof; Deurreis; Tot Stof; Gees wat die Pinkola Estés-dimensie verder ondersteun.

Die gesprek met die moeder – in Kristeva se terme aktiveer die baarmoederlike digterlike taal – en die erkenning van ‘n geslag singende vroue, word hier in die gedig gestulp. “Voetbaldans, Somerset-Wes” beklemtoon eweneens die sterk identifikasie met die vroulike, soos eweneens in ‘n gesprek met Judith Herzberg. En in “Gedagtig aan Praag”:

In kafees speel viole mazurkas en tzardas,
gedagtig aan vroue: glansendes, dansendes,
wat glim soos die koepels van Praag (p. 37).

Daar is deurgaans ‘n spel met die invloed van die digkuns, soos in “Deurreis” wat gelees kan word as ‘n ars poetica; so ook “Aragnoïde”, kommentaar op die postmodernistiese netwerke waarvan geen digter kan ontsnap nie. So moet “Woordende woord” saamgelees word met Van Wyk Louw en Johann de Lange, se “Wordende naak”, waarvan eersgenoemde twee sterker staan, veral met die fletse slot (opdrifsels).

Woordgevoeligheid en –spel lei dan ook tot ‘n twakkerige slot soos:

Die insig en die sin begin
waar ons sin
onsin word (“Brief aan die Korinthiërs”, p. 69).

Of in “Wisseling” word die voor-die-hand-liggende spel met lig en skaduwee uitgewerk, sonder ‘n verrassende nuwe insig vir die leser. In “Voor-lente” lees die psigoanalitiese leser ‘n onbedoelde glip van die tong tussen “ongepoets” en “draadprieel”, veral omdat die gedig tot (oor)barstens toe gevul is met implikasie. En wat is die punt van “Moderne Psalm”? Vergelyk dit met Totius of T.T. Cloete en die leser wag op die dénouement.

In “Misa Tango” lees ons:

Deur die dans, my God,
hoor U die voetval van die aarde.
As ons u ritmies nader,
kom deur die klop
‘n skare in beroering.
In so ‘n mis se drif
gryp ons U polse was, wieg
tot U gedagtenis.      (p. 59)

Hierdie soort dansmusieke bly by die eerste impuls en word nie iets meer nie.
Wanneer daar vanuit die konkrete beweeg word, is die verse sterk, oortuigend. Die metafisiese verse is egter nie intellektueel oortuigend nie; dit kom dikwels nie verby die betogende of prekerige nie. Die ingeligte leser is in iedere geval dikwels bekend met die groter prentjie.

Vir ‘n tweede bundel is daar waarskynlik ook te veel lopers en verse waarin die digter selfingenome is met ‘n taalspel en nie die gedig vir sigself laat praat nie, maar ‘n handvol gedigte is ontroerend en goed. Veral jeugseksualiteit – waar onthou en ervaring één word – en die speelse “Teksture van hier”, staan beslis uit.

As tweede bundel breek dit nog nie heeltemal die glasplafon nie. Tog is daar waardering vir die ongeskonde jeugstem. Die digter is met haar debuut met die Ingrid Jonker-prys bekroon in ‘n tyd toe die poësie-oes uiters skraal was.

En die voorblad is beslis nie Protea Boekehuis se beste nie. Ek hou meer van die Hollandse voorkoms as die “sewenties”-aanslag.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]