Tuesday, February 12, 2013

Wium van Zyl (Samest.). Elke slot ‘n weerbegin. Abraham H. de Vries 70 (2007)



Wium van Zyl (Samest.). Elke slot ‘n weerbegin. Abraham H. de Vries 70UWK, 2007. 
ISBN 062037811 5.

 Rina Els. Praatkos - ‘n nagereg-boekie oor Claerhout se leweISBN 978 0 620 37959 5.

Resensent: Joan Hambidge

Elke slot ‘n weerbegin is ‘n cadeau vir Abraham H. de Vries by geleentheid van sy 70e verjaarsdag.  Daar is etlike bydraes – gedigte, verhale, anekdotes, stories, analises van De Vries se verhale.

Daar is ‘n  uitgebreide bibliografie van Erika Terblanche wat die leser ‘n rigtingwyser gee van wat die skrywer al gepubliseer het, ernstig en minder verhewe.

Is dit etiket om kritiek of sydelingse kommentaar te lewer op ‘n geskenk?

Wel, die boek word in die openbare domein gelaat; dit is immers nie ‘n rangskikking of  vrugtemandjie nie. 

‘n Mens kom onder die indruk van vriende en kollegas se toegeneentheid – en dis reg so. Dis immers ‘n geskenk.

Toe gee ek die boek vir ‘n vriend om te lees.

En een aand – oor ‘n glas Peroni – gesels ons oor die bydraes.

“Interessant,”merk hy op,” hoe Kannemeyer skerpsinnig is oor kanoniseringsprosesse en outydse lesers wat een formule op ‘n kortverhaal neergooi. Maar hy kan nie raaksien dat hy presies dieselfde in sy tekste doen nie.”

“Hoe bedoel jy?”

“Hy bekyk tekste vanuit sy outydse idee van ’n teks ….”

”En Abraham H. de Vries ondermyn juis die siening van wat ‘n teks is.”

“Juistemint. De Vries is meer as ‘n pomo-skrywer. Dis in elk geval ‘n tipe matriks wat skrywers in hierdie land baie lukraak gebruik sonder die ideologiese implikasies wat daarmee saamgaan. Baudrillard word oorgedra na ‘n ander kultuur sonder ‘n begrip van die ideologiese en filosofiese implikasies.”

“Nog ‘n Peroni, Joanie?””

“Kyk, ek dink sulke boeke is belangrik, want ‘n hele historiese en kulturele verwysingsveld word in hierdie boek saamgevat. Mense soos  Petronella van Heerden – wat die meeste jong lesers nie sal ken nie – word hier in die argief geplaas.”

“Inderdaad. En lesers kan Aucamp, Brink, Etienne van Heerden, e.a. lees oor die teorie in sy kortkuns.”

“Ja en verwen word met insigte:

In hierdie opstel word ondersoek hoedat De Vries vertelling as verstaanshandeling aanwend: vertelling as manier waarop gepoog word om ervarings sin te maak (p. 64).”

“Poog? Dis mos ‘n Neerlandisme?”

“Ja, maar dit kom dikwels in Afrikaanse literatore se stilletasies voor, nie waar nie?”

“Ja, soos ander kakebeenkrakers. In hierdie boek is daar ‘n handvol deeglike essays – soos George Weideman, die ou staatmaker, se uitmuntende essay oor die clowneske by De Vries. Die skrywer se liefde vir die clown / pikaro / triekster herinner aan die jong Fellini se obsessie met sirkusse en hoe dit neerslag gevind het in sy werk... Otto e mezzo (Eight and a half), o.a.”

“En die ander tekste?”

“Dit is boek vir die De Vries-aanhanger met al die kenners wat ‘n hier ‘n bydrae lewer.  Wium van Zyl het dit versorg en gepubliseer by die UWK en ‘n mens sou tog voel dat ons NB-uitgewers vir De Vries kon huldig met ‘n glansboek. Maar nou ja. Deesdae moet ‘n boek verkoop en populêr wees en artikels waarin ons stilletteer of literatoreer, is maar vir die in-klompie bedoel.”

“Maar daar is darem ook stories en gedigte in. ‘n Verhaal van Aucamp wat rondom Tsjekof vibreer...”

“En ‘n knap vertaling van Tsjekof...Het dit jou opgeval dat die meeste skrywers hoofsaaklik uit die Nederlandse bronne aanhaal? Dalk is dit ook ‘n implisiete verwysing na die skrywer sélf met sy Nederlandse verbintenisse....”

“Ja dalk. Ek dink hier slaan Dorothea van Zyl die spyker op syn kop met haar verwysing na intertekstuele spel in die skrywer se werk en hoe hy sy eie tekste herskryf. Sy begryp dus instinkmatig hoe elke slot ‘n weerbegin is. Dat elke skrywer as’t ware oor en oor dieselfde storie vertel....”

“Maar is dit dan nie ‘n soort “op my ou ramkietjie met nog net een snaar” nie?”

“Nee, Van Zyl wys tereg daarop dat die skrywer vir ons duidelik aantoon dat ons met variante werk en in hierdie opsig is dit lekker en lonend om terug te keer na die tekste en hulle met mekaar te vergelyk...”

“So dan, wat is die belangrikste bydrae wat hierdie outeur gelewer het?”

“Hy is oerverteller wat die gewone storie kan verteller, behendige metafiksionalis, postmodernis, bloemleser, polemis, taalstryder...”

“En daardie boek wat daar lê oor Vader Claerhout?”

“Ja dit is ‘n glansboek vir die Vader.”

“En die bydraes?”

“’n Mens leer altyd. Hier het ek die begrip ‘giggel-geel sonneblomme’ geleer.”

“Ja?”

“En sy voorliefde vir donkie en sonneblomme, jy weet.”

“Daar is boonop ‘n handvol gedigte en vertellinge van mense wat hom geken het. Selfs van Adriaan de Beer van die DNA strings.”

“Die afdrukke is wel pragtig vir die Claerhout-bewonderaar wat dit sou wou uitsny en teen ‘n muur hang. En is dit nie interessant hoe die twee huldeblyke verskil nie? Die een met essays en vertellinge, die ander een meer loslit?

P.S.
Stilletassies verwys na die tydskrif: Stilet waarin artikels verskyn.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]