Monday, February 25, 2013

Willie Kühn - In die oog van stilte (2005)



Willie Kühn. In die oog van stilte. Human & Rousseau, 2005. ISBN 0 781 4472 6.

Resensent: Joan Hambidge

Een van die voordele van ‘n uitgewersbedryf wat minder boeke publiseer, en spesifiek, minder digbundels, is dat die uitstaande en belangrike debuut na waarde geskat kan word. Die debuutbundel van Willie Kühn, op sy dag ‘n uitstekende boekeredakteur van Beeld, In die oog van stilte, is beslis loflik. Vormbeheer, woordspel, ironie, paradoks, skerp waarneming en ‘n kennis van die digtradisie waarbinne hy werk, onderskei hierdie bundel as die werk van ‘n digter wat met ‘n seker hand dig.

In “Gedigte moet sleutels hê…” , met sy toespeling op Van Wyk Louw, neem hy ook speels standpunt in teen die “skrywer in koesterende portretgalery” en is hy bewus van die vers se “postmodernistiese bod”. Ons tref dan ook dikwels verse aan wat waarnemings is van die mens se plek in die natuur, ons algehele weerloosheid teen groter magte wat ons lot bepaal en die proses van transformasie, soos wat die openingsgedig dit stel, waarin die digterlike bedryf as een van vuur en suiwering gesien word.

In die pragtige “nota bene” word die mens se skelet en sy funksies beskryf en word Eybers se “Wespark” ook raak gelees. Die slim Latynse titel speel ook in op die letterlike bene van die mens met die skedelgryns wat kindertjies kan bang maak! Dus die dood wat dan ook skuilhou in ons.

Die digter se satiriese aanslag in “Die laaste Afrikaanse gedig” (inderdaad met sy toespeling op Schoeman se roman-cum-outobiografie) steek die draak met die EngAfrikaans van ons jonger generasie wat alles so “stunning” en “spectacular” vind.

En ‘n “Direksievergadering” is ‘n andersoortige transformasie:

”Die portaal is weelde herbore.” Die korporatiewe leuse vra dat almal hoop moet herwin; maar nie die soort hoop wat die digter voorstaan nie.

Die missie is ‘n mantra en die byeenkoms ‘n soort opwekkingsdiens in ‘n vers wat die leser opnuut bewus maak van wat agter die toe deure van hierdie soort vergaderings gebeur.

“In die oog van die stilte” kan sowel ‘n ars poetica wees as ‘n gedig oor die mens se soeke na stilte en inkeer. Ook die bundeltitel moet dan gelees word op twee vlakke: die soeke na ‘n volmaakte ruspunt wat in die meeste gedigte onderliggend blyk te wees. Tegnies is dit waarmee hierdie digter besig is en in sy bedryf en waarnemings van die menslike aard en die natuur soos onder andere verbeeld in “Superman”.

In “Planttyd” word die natuur en die seksuele tegelykertyd besing in sterk beelde. Ofskoon die digter dikwels besig is met abstraksies, word die verse in sterk konkrete beelde staangemaak wat myns insiens altyd ‘n vereiste is vir ‘n oortuigende gedig. God laat ‘n besoekerskaartjie en die groot reise van die kontinente (wat na die tsoenami des te sterker en meer ironies word), beeldend skerp beskryf.

Behalwe die metafisika word die liefde ook deeglik onder die loep geneem: ernstig en speels. Ook gesprekke met die heelal en presies wat ons hier doen, word slim behandel (“Gesprek”). Ongelukkig rym die mens nie. En dit is waarskynlik die refrein van hierdie bundel: ons weerloosheid binne ‘n groter, oorrompelende heelal waarin ons dikwels niks meer is as ‘n “aardse aap” nie. Tog is die aarde wonderlik en ryk, ons ten spyt.

‘n Mens hoor dikwels Van Wyk Louw intertekstueel saampraat (Nuwe Verse) en ook Ovidius se Metamorfose is duidelik tersaaklik: die digkuns is ‘n fyn kompos vir hierdie digter…

En die digterlike proses word, soos in die eerste gedig, sterk gekoppel aan vuur (“die kop in die vuur”) se paradoksale suiwering en as.

Een van my gunstelingverse is “Encore” oor Du Pré, bekend om haar meedoënlose vertolkings en tragiese liggaamlike verval. Ook die vers oor Kerkorrel, “uitspanplek”, is ‘n grimmige lykdig wat onder andere ‘n nuwe betekekenis gee aan die vertolking van “al lê die berge nog so blou” en die pynlike slot waar die dood hom “voëlvry” verklaar.

Dit is ‘n intelligente en belangrike debuut wat die uitgewershuis se nou onlangse reputasie as publiseerder van leë geldmaaktreffers in die digkuns afbreek. Die bundel vra vir méér as een lees wat telkens met stygende intellektuele en emosionele genot gepaardgaan. Ek voorspel groot dinge vir hierdie digterskap.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]