Sunday, February 24, 2013

Micki Pistorius - Sorg (2006)



Micki Pistorius. Sorg. ‘n RomanPenguin, 2006. ISBN 0 143 02519 8.

Resensent: Joan Hambidge

Onder die noemer “magiese realisme” word die grootste “tall stories” gepleeg binne die Suid-Afrikaanse letterkunde. En drooggemaak. Binne die Suid-Amerikaanse romankuns, en hier dink ons aan Márquez, se Hundred years of solitude, is hierdie verskynsel gebed binne die Rooms-Katolisisme én ‘n tradisie van ‘n geloof in die ón-sienlike. In La Paz het ek verkleinde menskoppe in versterkwater gesien en die meeste Suid-Amerikaners dink dat “magiese-realisme” is die werklikheid.

In ‘n Engels-Suid-Afrikaanse roman val ‘n figuur deur ‘n plafon, eweneens onder die allesverduidelikende term: magiese realisme. Die term word egter dikwels misbruik wanneer die verteller se fantasie potsierlik hande uitruk.

Micki Pistorius se roman, Sorg, verskyn by Penguin. Pistorius het veral bekendheid verwerf as forensiese profielsamesteller en kenner van reeksmoordenaars.

Op die agterplat verneem ons dat hierdie roman is van liefde, verraad, gierigheid, haat en vergifnis – so fel was hierdie emosies dat karakters ná hul dood nog vasgevang bly in hierdie oorrompelende gevoelens. Die roman gee ‘n uitgebreide bronnelys: van Van Greunen se Kommando’s deur die Klein-Karoo tot Van Waart se Paleise van die pluime, die FAK, boeke oor Distrik-ses, Langenhoven, ensomeer.

Indien u die boek lees, moet u asseblief die skrywersnota vooraf vermy. Hierin bely die outeur haar siening van spoke wat sommige lesers as “vreemd” mag ervaar.

Hierdie leser het ‘n groot affiniteit vir die onderwerp en my studeerkamer is vol gepak met studies oor die parapsigologie, “The Unexplained”, en wat nog.

Daar is dus geen lesersweerstand teen die gebruik van spoke nie. Inteendeel. (Ook reeksmoordenaars interesseer my, vir die rekord.) Maar om ‘n roman te skryf oor só ‘n ambisieuse onderwerp, vra méér as ‘n gordyn wat skuif of ‘n karakter wat in ‘n trans beweeg wanneer sy voor ‘n portret staan.

Hiedie roman het my teruggeneem na Márquez in al sy gedaantes en die memoirs, Living to tell the tale (2003).

Op hierdie reis terug in sy verlede, verduidelik die skrywer hoe magies-realisme werk. Hoe ‘n storie ‘n spel tussen werklikheid en fiksie word. Trouens, dit is ‘n aanbevole handboek vir enige skrywer. Gerekend en in die beginfase.

Pistorius se verteller spring weg met die skeppingsverhaal.

Dan begin die verhaal, maar daar is soveel potsierlike taalhebebbelikhede dat die leser nie altyd seker is of die roman nie parodies wou wees nie. Is hierdie roman onder meer na ‘n kundige leser soos ‘n Hettie Scholtz gestuur vir raad?

Byvoorbeeld:

“Dis lanklaas wat iemand my gegryp het of ek iemand gegryp het, dink hy en sy gedagtes  dwaal terug na Tessa op die dorp...” (p. 24).

of

“En ek wil jou lyf teen myne hê, “ sê Danie hees terwyl hy die bottel wyn en die kers neersit. Hy trek die handdoek stadig af. Sy het ‘n mooi lyf, goudbruin en ferm. Sy is klein en fyn, maar sy lyk sterk. Haar spiere dans onder haar vel en haar lang, swart hare val reguit teen haar rug af en waai effens in die wind, wat deur die kaggelskag inbreuk maak op hulle privtaatheid. Haar bruin oë blink in die kerslig.
“Elke ding op sy tyd,” sê sy en tel weer die handdoek op. “Steek daardie vuur in die studeerkamer aan. Ek en jy en oupa Hendrik het baie om oor te gesels vanaand” (p. 204).

Hees? I ask you!
Hoe dans spiere onder die vel?

Ja-nee, steek die vure aan!

So kan ‘n mens aangaan, “ad nauseam”, om lompe stellings, verspotte tonele uit te lig.

En as jy moet lees dat as ‘n mens eers Afrika in jou are voel klop het (p. 166).

“Hierdie kontinent het ‘n manier om haar kinders gevange te hou” (p. 166), verneem ons.

Hierdie diepsinnige filsofie word onderskraag met vele ander wyshede, soos dat nostalgie aan die hart pluk (p. 167).

In hierdie oer-ambisiseuse roman – ja, selfs Rhodes en die Jameson-inval maak hier ‘n draai, Buller, die Tommies en die hele boksemdaais, o.a. – sodat ‘n mens op ‘n blits-kursus geneem word deur ons geskiedenis. Dink maar wat het Ingrid Winterbach/Lettie Viljoen gemaak in Buller se plan? Of Niggie?

Dit is nie aangenaam om ‘n roman van hierdie aard te sien misluk nie. Dit laat Marita van der Vyver se Stiltetyd na ‘n Hertzogprys-roman lyk.  Gaan lees liewer die meester: Gabriel García Mârquez en hou jou hart van gode rein. Die lewe is te kort om romans te lees wat nie die paal haal nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]