Thursday, February 28, 2013

Marita van der Vyver - Bestemmings (2005)



Marita van der Vyver. Bestemmings. Tafelberg Uitgewers, 2005. ISBN: 0 624 04327 4.

Resensent: Joan Hambidge

Marita van der Vyver se bundel kortverhale heet Bestemmings. Die voorblad met die mooi foto-realistiese portret an ‘n vrou (ons kan sien sy sit in ‘n trein) wat turend, alleen uitkyk, lei die leser na die belangrikste temas in hierdie boek. Dit is ‘n boek oor reis. Kosreise, liefdesreise, seksreise, vriendskapreise. Kortom, die lewe as ‘n reis. Die bundel praat in wese van agtertoe terug: Kringvlug”, ‘n soort “new journalism”-verslag, verwys na die werklike outeur se leed met die dood van ‘n kind. Dit wat (waarskynlik) agter Griet skryf ‘n sprokie gelê het. Dus, hoe om ‘n primordiale verlies onder woorde te bring...

In die sterk openingsverhaal “Aptyt” word kos die metafoor vir psigiese leegheid. Die Afrikaanse geesteslewe is tans, terloops, geobsedeer met kos en reis. Dit gaan egter om meer as kos of reis. Dit gaan oor vervulling wat uitbly, die groot hongerte en waarskynlik die soektog na ‘n eksotiese ruimte wat ‘n reisiger altyd sal bly ontglip. Die vrou in die openingsverhaal weet dat niks die holte sal kan vul nie. Trouens, al die karakters verraai ‘n soort leegheid, ‘n soort gevoel van “displacement”.

Dit is ‘n hoogs leesbare teks met stories oor die liefde (“Triptiek”, o.a.), die dood (“Die opening van die mond”, o.a.) wat vra om as ‘n soort sirkelgang gelees te word. Ten beste sou ‘n mens hierdie vertelling Jungiaans moet benader en verhale speel op mekaar in. Dalk het karakters nuwe name, nuwe probleme, maar op ‘n manier is daar ‘n ragfyne draad wat hul aanmekaar bind. Hierdie leser was diep ontroer by die lees van die slotverhaal waarin die dood van ‘n kind, die wete dat sowel die moeder as ‘n beste vriendin sterwend is aan kanker, met distansie èn pynlike emosie beskryf word.

Tipies Van der Vyver word talle verhale vermitologiseer, soos o.a. verwysings na die Egiptiese mitologie, maar ook pop- en filmverwysings gee ‘n draagwydte aan vertellings. Blanche Dubois moes altyd staatmaak op die vertroosting en begrip van vreemdelinge. En hierdie Tennessee Williams-karakter is dalk die simbool vir alle karakters in hierdie boek wat tydelik vertroos word (in ‘n vreemde ruimte deur die verbeelding of met kasuele seks). Dalk word dit ‘n te maklike truuk, hierdie seggings uit films of die ‘wise cracks’ van karakters wat alte veel na clichés klink.

 Of  die “sy” in Egipte of Wenen is, dit bly ‘n ruimte van eensaamheid, “displacement”, ontgogeling. Ook psigoanalise is nie van veel waarde nie; die man is ‘n reproduksie van Freud wat daarop dui sy moet lees oor Freud en nie die werklike Freud kan vind nie (“Waansin in Wene”).

Dis ‘n goed, vlot geskrewe boek. Elke verhaal is dan ook ‘n soort reistas volgepak met ontdekkings. Soms is daar, soos in “Triptiek”, ‘n kaleidoskopiese inspeel op dieselfde gegewe. In “Boom van kennis” word herinnering – die oopmaak ‘n tas by wyse van spreke – gekoppel aan ‘n ervaring in die vreemde. Hoe trauma werk en onverwags ons huidige indrukke en reaksies kan bepaal, word in hierdie verhaal oopgemaak. Dit gaan dus nie om Georgia se pa alleen nie, maar dit hy simboliseer. Dat mense as’t ware argetipes of draers word van pyn en onverwerkte konflik.

Dit beweeg verby die populistiese na die ernstiger letterkunde. Hoogs aan te beveel vir ‘n aand se lekker-lees. Plek-plek is die verhale te vlot, maar in ‘n handvol verhale presteer die skrywer ‘n sterk blik op die komplekse binnewerkinge van die menslike psige. Die lewe is inderdaad ‘n reis met spreuke en mites en argetipes wat ons moet rig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]