Saturday, February 2, 2013

Karel Schoeman - Op ‘n eiland (2009)



Karel Schoeman. Op ‘n eilandHuman & Rousseau, 2009. ISBN 

Resensent: Joan Hambidge

Karel Schoeman se roman het in 1971 verskyn en is pas weer deur Human & Rousseau gepubliseer as deel van die klassieke romanreeks. In 1975 was dit een van ons eerstejaar-voorgeskrewe werke aan die Universiteit van Stelenbosch. Die boek het so ‘n lelike blou omslag gehad.

Toe moes ons die vraag beantwoord: bespreek die simboliese funksie van die versonke stad in die roman. Of soiets.

Die subtiele verhouding tussen Johan en Ruud wat afspeel op die Griekse eiland bly ‘n besondere uitbeelding van ‘n subtiele homo-erotiese aanraking. In daardie tyd, die laat sewentigerjare op Stellenbosch, was hierdie liefde nie in die klas openlik besê nie. Hennie Aucamp se kortverhale het begin aandag trek.

Die bekende aanhaling uit die roman is wel deur vele lesers van buite geken.

“Daar is eilande wat deur geen mens bereik is nie, wit strande wat deur geen voet betree is nie; daar is fonteine van helder water waarvan niemand ooit gedrink het nie. Daar is gebiede wat op geen kaart vasgelê is nie en kuste waaraan daar nooit ‘n naam gegee is nie; geen oor hoor daar die geroep van die voëls of die slag van die branders nie, die afstande ongemeet en die dieptes ongepeil – o ja, daar is eilande”. Tereg is hierdie aanhaling op die buiteblad afgedruk.

Onbeantwoorde liefde dus. In 1992 doseer ek aan die UK die roman en die eksamenvraag word meer eksplisiet aangebied oor die ‘aanraking’ tussen die mans: wat het werklik tussen hulle gebeur?  In 2009 lees ek die roman weer, vanuit ‘n derde perspektief: en steeds bly die roman ‘n mens aanspreek ten spyte van die feit dat vir die leser van vandag die besoek aan die versonke stad dalk té vaag beskryf word?

Die leser moet dus self besluit wat hier gebeur (het).

Ons lees die roman post-Koos Prinsloo en -Johann de Lange se vertellinge van die homo-bestaan. Tog tog. Dit is juis die suggestieryke aspek van die roman wat aan ‘n mens bly knaag. Die twee mans se ‘aanraking’ aktiveer ‘n klassieke liefdespatroon. Die reisiger, die besoeker van buite (Ruud), is tydelik op besoek. Die verhouding tussen die egpaar, met hul kind, is kompleks. Daar is toespelings op ‘n verbintenis tussen die vrou en ‘n vriendin, wat eweneens kom besoek aflê. Die relasie tussen die twee vroue is verby; dog hulle bly vriende. Ons weet egter dat Ruud weer gaan vertrek. Die tydsaspek is eweneens fassinerend: dit begin in die presens en beweeg na die verlede tyd, en terug na die presens, juis om die durendheid op te vang. De roman is in ‘n sirkelgang vertel: die aankoms en vertrek van die reisiger (dit is ‘n lang reis van… en na…).

Daar is hartgrypende passasies oor onvervulde liefde en begeertes regdeur die teks:
mense wat mekaar toevallig in ‘n trem aanraak, by haltes afklim – maar die begeerte word nooit opgelos nie.

Op ‘n eiland is ‘n roman oor onvervulling en eensaamheid. Dit is egter ook ‘n teks wat die weë van die liefde uiters behendig opvang. Trouens, as dit nie vir hierdie ‘aanraking’ was nie, was daar geen verhaal nie. Dit heet Op ‘n eiland, en nie Op die eiland nie, ‘n soort iteratief-duratief oor die liefde wat drie verskillende tydvakke se leesbenaderings kan dra.
In die woorde van Schoeman: In die sin van alles, van die beskaamde hoop en die onbevredigde liefde…”(181).

En hierom is en bly dit tereg ‘n klassieke teks.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger, Flapteks geplaas.]