Sunday, February 17, 2013

Henry James deur die oë van ander – Deel I

Henry James (c) John Singer Sargent

Die afgelope paar jaar verskyn daar etlike romans oor Henry James. Uiteenlopende tekste soos A.N. Wilson se A jealous ghost waarin The turn of the screw herskryf word, David Lodge se Author, Author en hier te lande Michiel Heyns se The typewriter’s tale. Verder is daar Colm Tóibín se Master en Allan Hollinghurst se The line of beauty.

Daar is waarskynlik nóg tekste oor hierdie fenomenale skrywer en elkeen van hierdie romansiers se kennis oor sowel James se lewe as skryfwerk spreek duidelik uit hul komplekse tekste waarin biografiese feite en insigte oor die skryfkuns gefiksionaliseer word.

By Tóibín en Lodge word daar op dieselfde problematiek gelet in James se lewe (1843 – 1916), die beroemde Amerikaanse skrywer wat in Engeland gaan woon het.

In James se lewe was daar die ouer, afkerende broer, William, die sielkundige; die invalide suster, Alice en Constance Fenimore Woolson, ‘n skrywer wat waarskynlik selfmoord gepleeg het, omdat haar passie vir James onbeantwoord gebly het.

Waarom interessseer hierdie skrywers mense juis nou? Vanselfsprekend weens sy enorme skryftalent – ons dink hier ook aan die voortreflike verfilming van The Portrait of a Lady met John Malkovich en Nicole Kidman met Jane Campion as regisseur – wat wys hoe relevant die skrywer bly wat sosiale kodes en mores kon belig. Ander tekste is ook verfilm: o.a. deur my gesien is The wings of the dove en Washington Square.

James self is “larger than life” in sy verstommende kreatiwiteit, as dikteerder aan sy sekretaresse en as persoon wat die kuns bó lewe verkies het.

En vermoedelik wil gesiene skrywers soos David Lodge iets probeer vasvang van ‘n grootse skrywer. Waarskynlik beleef ons tans die einde van die postmodernisme wat vir vele lesers ontaard het in ‘n fasiele spel met intertekste. Juis om deur ‘n fenomenale kreatiewe skrywer te werk, word daar uiting gegee aan spiritualiteit.

Lodge se roman handel oor James se drama Guy Domwille se negatiewe ontvangs. Die vriendskap met die skrywer George du Maurier lê aan die basis van die roman. 

Skryfkompetisie en die hantering van sukses en oorspronklikheid kom hier aan bod. Du Maurier se vertelling van dieselfde storie as wat James gebruik maak van ‘n blitsverkoper. Terselfdertyd kan hy nie die roem en blootstelling hanteer nie, terwyl James juis na groter bekendheid smag.

Die Lodge-roman begin met die einde van James se lewe en waar hy in ‘n siekbed briewe ontvang van bekende mede-skrywers soos Rudyard Kipling, Thomas Hardy, George Bernard Shaw, Arnold Bennett, e.a. Dit is egter sy verhouding met ‘n minder bekende skrywer wat die fokus van die roman word: Du Maurier, ‘n persoon waaroor sy broer, William, bedenkinge gehad het.

Lodge lewer kommentaar op James se selibate toestand via ‘n teks van Maupassant wat hy lees oor ‘n liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n vrou. James gril gewoon vir die lyflikheid tussen die twee karakters en gru aan die gedagte dat mans ook met mekaar sou kon verkeer.

Paul Zhukovski se attensies laat hom wegdraai van ‘n vriendskap, waarskynlik omdat hy so ‘n diep-gesetelde vrees vir intimiteit gehad het, met sowel mans as met vroue. In hierdie biografiese roman word daar geweldig baie klem gelê op die verhouding met die suster en die jaloerse verbintenis met en bewuswees van ander skrywers.

Sy afkeer van Oscar Wilde se skandalige bestaan en arrogansie word eweneens beskryf deur Lodge. Die ekshibisionistiese kamp-gedrag vir James onaanvaarbaar en wanneer Wilde aan die einde van sy suksesvolle drama die gehoor bedank vir hul skerpsinnigheid, vind hy dit onvanpas. Maar die eintlike afkeer in Wilde is sy homoseksuele dubbelbestaan en uittarting van die morele kodes van die tyd.

The typewriter’s tale – a novel is Michiel Heyns, ‘n James-kenner, se blik op hierdie boeiende skrywer, maar vanuit die perspektief van sy (gefiksionaliseerde) sekretaresse, Frieda Wroth. Haar verbintenis met Morton Fullerton lewer kommentaar, sydelings, op die soort tekste wat sy moet tik.

Soos in Lodge se teks, is die vrees vir openbaarmaking kenmerkend van James se psige. In ‘n gesprek tussen Frieda en Fullerton word die Oscar Wilde-saak bespreek en geanaliseer. Edith Wharton word ook helder en goed geteken in hierdie aangrypende roman.

In tye van briewe en waar mense mekaar vertrou, word intimiteite openbaar, verduidelik Fullerton aan haar. Gelees in ‘n hof en deur buitestaanders beskou, kry dit ‘n nuwe betekenis en kan sodanige briewe jou ophang.

Biografiese besonderhede verwys ook na James se vernietiging van sy korrespondensie ten einde sodanige blootstelling te voorkom en jou eie privaatheid te beheer.

Heyns se roman in die beskrywing van ‘n sekstoneel is uiters visueel en oortuigend. En uiters ironies wanneer ‘n mens dit teen James se vrees vir intimiteit en seksuele aanraking plaas.

Die periode in Rye (Sussex) word in ‘n spesifieke tyd geplaas en as ‘n James-afficionado erken Heyns in welke mate hy die gegewens gefiksionaliseer het.

Die skrywer erken dat hy gegewens geannekseer, geïnkorporeer en aangepas het vir sy eie doeleindes.

Sy hooffiguur is gebaseer op Theodora Bosanquet wat vanaf 1907 tot en met James se dood sy sekretaresse was. Die gedagtes is Frieda s’n, hoewel daar uiteraard ooreenkomste tussen die twee figure is. Na James se dood in 1916 het sy deur middel van ‘n ‘spirit control’, Johannes, met James kontak gemaak.

Die briewe in die roman is aangepas, maar Heyns lei die leser na die oorspronklikes vir vergelyking.  (Die verbintenis tussen telepatie, tik en outomatiese skryfwerk is ‘n belangrike aspek waaraan Heyns aandag gee en hy verwys die leser na Thurschwell se studie hieroor wat in 2001 verskyn het.)

Die leser word op die koop toe van opsetlike foute bewus gemaak, soos o.a. dat Frieda nie vir meneer James kon sien fietsry nie; hy het reeds in 1901 daarmee opgehou!

James het sy briewe in die herfs van 1909 verbrand; die skrywer skuif hierdie gebeurtenis na laat-Julie. In die roman waarin die steel en verbranding van briewe ‘n belangrike tema is, betrek Heyns by implikasie Edgar Alan Poe se The purloined letter om die spel met privaatheid en openbaarmaking verder uit te brei.

En dan:”As dedicated Jamesians will have noticed, I have found myself at times appropriating phrases from the writings of Henry James. I have retained these borrowings, not as plagiarism, but as homage to the works to which this novel is above all indebted”.

So gelees, is hierdie roman ‘n fassinerende ‘paper chase’ met ‘n verbluffende spel nie alleen met romans van James nie, maar ook met verwysings na die lewe en uitinge van die outeur. Dis ‘n besondere roman juis omdat dit bewys dat ‘n biografiese roman se groot krag in ‘n verwringing en aanpassing lê.

Beide Lodge en Heyns se boeke is ‘homages’ aan James.

Biografiese romans wat die spanning tussen teks en lewe uitstippel en wys hoe elke skrywer by implikasie sy eie interpretasie aan HJ laat inspeel op die gegewens. James is by uitstek geskik vir hierdie soort spel, juis omdat hy ‘n groot skrywer was en is met ‘n komplekse belewenis van intimteite. Juis deur hierdie romans word daar nogmaals erkenning gegee aan een van die grootste storievertellers nog.

Deur hierdie romans kry die lewe en werk van Henry James ‘n tweede lewe. Die skrywer het op ‘n keer bely dat Balzac sy model was:

“A novel is in its broadest sense a personal, a direct impression of life: that, to begin with, constitutes its value, which is greater or less according to the intensity of the impression” – The Art of Fiction, 1885.

Hierdie romans het my teruggeneem na Leon Edel se biografie oor die meester en dan moet dit miskien duidelik geskryf word: Michiel Heyns se boek is ‘n boeiende, puik, oorrompelende roman wat beslis nie terugstaan vir die ander meesters se pogings nie.
Daar is iets metableties (in Van den Berg se terme) af te lees uit verskillende skrywers se blik op ‘n groot skrywer: ‘n versugting weg van postmodernistiese tekste se spirituele leeghede? ‘n Terugkeer na karakters se binnespraak?




Bronne:


Michiel Heyns. The typewriter’s tale – a novel. Jonathan Ball, 2005. ISBN: 1 86842 229 1.

David Lodge. Author, Author. Penguin, 2004/2005. ISBN: 780 141 018225

Colm Tóibín. Master. Picador, 2004. ISBN: 0330 485652.

A.N. Wilson. A jealous ghost. Hutchinson, 2005. ISBN: 0 09 180020.

Allan Hollinghurst. The line of beauty. Picador, 2004. ISBN 0-330-48320-X.

Emma Tenant. The felony. Vintage, 2003. ISBN 0-09-928397-2.

Leon Edel: Henry James: The master 1910 – 1916. Rupert Hart-Davis, 1972.

Harold T. McCarthy: Henry James – The creative process. Thomas Yoselhoff, 1958.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]