Friday, February 8, 2013

gert vlok nel - om te lewe is onnatuurlik (1993/2006)



gert vlok nel. om te lewe is onnatuurlikTafelberg Uitgewers, 1993/2006. ISBN 0 O624 04505-6.

Resensent: Joan Hambidge

gert vlok nel (sy naam is in kleinletter soos fanie olivier en ee.cummings) het met een digbundel kultusstatus bereik. om te lewe is onnatuurlik is in 1995 bekroon met die Ingrid Jonker-prys en na sy debuut het gert vlok nel, ‘n troebadoer, eerder bekendheid verwerf as sanger.

Poetry International, rock-feeste, konserte, ‘n film oor sy lewe en die mitologie van die sekuriteitsbeampte wat digter geword het, het deel van sy lewe geword. Hy het die “beautiful” woorde van Beaufort-Wes die wêreld ingedra en die eenvoudige spoorwegbestaan vir mense oopgemaak.  

Hy het waarskynlik nie die digkuns verlaat nie, maar eerder van die bedompige verseboeke beweeg na die verhoog. Vir party kritici is dit ‘n teleurstelling dat hy verhoog verkies bó die “koue, hoë eensame modernistiese paaie”. Vir ander dui dit egter op die verandering van die digterlike diskoers wat in ‘n postmodernistiese tydperk o.a. die parlando verkies. Jong mense bely dat dit ‘n aand by ‘n “show” meer beteken as om voor ‘n boek te sit. Oh dear reader(s), we are a dying breed!

Persoonlik wag ek op die tweede digbundel; nie ‘n “song”-boek nie, maar ‘n bundel waarin die belofte van die eerste boek vérder gevoer word. Vir my is die openbare optredes die “maklike uitweg” veral vir ‘n skrywer wat soveel belofte getoon het.

Die eerste is immers geloof om die gesprek met Van Wyk Louw, die e.e. cummings spel met taal, die ongewone gebruik van die ‘n wat hier foneties “i” geword en die genadelose uitstalling van die naakte “ek”. Verder is / was die gebruik van sketse eweneens ‘n aanduiding dat hierdie bundel buite die orde van die konvensionele bundel beweeg.

Die “nuutheid” is nie meer so nuut nie. ‘n Mens lees die boek dus nou ‘n paar jaar later – en sedert 1993 het daar vele nuwe stemme bygekom. gert vlok nel het wel ‘n nuwe aanslag gebring; dit is bepaald só, maar ‘n mens voel dat die belofte nog nie volvoer is nie.

Die eenvoudige praatvers bly die hartsnare roer soos die gedig “Rita” wat ‘n lewe het waarvan die hoop op uitkoms bly roep of die uitmuntende “dit maak nie saak wanneer nie” waarin ‘n verspeelde lewe raak beskryf word:

dit het alles te doen met skooljaarboeke en spoorwegdorpe
en ver droomuniversiteite en hartstog en jare en
lyding & leed. en sukses & seks. en wie wat in die lewe erf:
meneer Joubert het weggegaan en het gesterf (p. 35).

Nog steeds bly “die dag toe hulle vir Donkie Viviers” ‘n kragtoer met sy inspeel op Van Wyk Louw:

& die laat-middag het chroom geword.
& trein wat ysig fluit (p. 38).

En natuurlik bly die volgende uit “die eienaardige verwikkeling op lemoen” onthoubaar:

godweet daar is baie digters in afrikaans Oupa
soveel metafore
(vir alles wat ongesê moes bly)
om te lewe (p. 41).

‘n Persoonlike gunsteling bly: “laaste herinnering aan Magdaleen” en die volgende reël som ‘n hele bedryf op:

toe die liefde nog nie intertekstueel was nie... (uit “hillside”).

Dit is aardse verse oor “hard-luck”-mense geskryf met oënskynlik geen kennis van die werkinge van die digkuns, maar die aantal self-refleksiewe verse en die verwysings na Louw en die funksie van ryme, bewys dat daar ‘n berekende spel met die leser gespeel word.

Dit is ‘n besonderse talent. ‘n Digter kan egter net ontwikkel wanneer daar gepubliseer word en hy/sy deur die groeiproses van publikasie, ontvangs en die toets van kritiese mening beweeg.

Anders bly jy vassteek by ‘n eerste. By die benaming kultusfiguur. En later word jy onthou om jou kultusstatus en nie om jou gedigte nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]