Sunday, February 17, 2013

Gabeba Baderoon - A hundred silences (2006)



Gabeba Baderoon. A hundred silences. Kwela Books, 2006. ISBN 0 7957 02280

Resensent: Joan Hambidge

Gabeba Baderoon het in 2005 die gesogte DaimlerChrysler-toekenning verower met ander ewe belowende digters neffens haar: Ilse van Staden, Danie Marais, en sewe ander.

‘n Letterkundige prys is dikwels soos die 100m by die Olimpiese Spele, as u weet wat ek bedoel. Haar werk het ‘n besondere impak gemaak omrede die tegniese beheer, die ryk tematiek en die besondere verweefdheid van die Moeslemkultuur binne die Suid-Afrikaanse leefwyse. Die volwasse aanslag en tematiek het onmiddellik opgeval. Sy dig oor sowel die persoonlike as die universele; die familie en die geliefde; Suid-Afrika en die buiteland.

A hundred silences is nou reeds haar derde bundel van die digter wat The dream in the next body en The museum of ordinary life gepubliseer het. DaimlerChrysler se reklamering het baie lesers bewus gemaak van die digter en verder het sy nou onlangs ‘n skryfrespyt geniet in Uppsala.

Agterin is daar ‘n lang lys bedankings vir algar wat gehelp het aan die bundel. Waarom soveel skatpligtigheid erken?

Of is dit juis die gevaar van die digter wat bemark word deur ‘n instansie? Dis alles vrae wat by die leser opkom. Is dit gevaartekens dat dit die digterskap mag bedreig of is die digter in staat om hierdie proses goed te bestuur. ‘n Mens wil uitroep: "Take the money and run!” Hou op kopknik, kniebuig.

En skryf: die kreatiewe vaart is waarop die digter behoort te fokus.

Soos die titel reeds aandui, word stilte in verskillende skakeringe ondersoek: ‘n soort Elizabeth Bishop-beheptheid met die “art of losing” wat veelvuldige eise aan die digter stel. Of dit nou woorde is wat ‘n mens probeer terugsluk net na ‘n rusie of dit nou ‘n foto is, geneem deur ‘n voormalige geliefde van die huidige beminde, sal die gedig dit opvang en stol. Baderoon skryf dikwels oor die ouers, die Freudianse ‘family romance’, nes haar eweknie Rustum Kozain in This carting life. Die omlyning van die ouerfiguur is altyd ‘n besegging van die self, weet ons uit die digkuns. Sosiale ongeregtighede, kleurkwessies en bevryding van allerlei vorme van onderdrukking, is Baderoon se tematiek, beskryf uit die posisie van die buitestander wat stemhebbend geword het. (Dit sou ‘n navorser loon om die verskillende diskoerse in die bruin en/of Moeslem-digkuns te ondersoek.)

In “Sudden music” (p. 32) word die gewaarwording van die mag van die digkuns wat gekoppel is aan die binnespraak via Bishop en Neruda beskryf.

Digterlike taal volgens Lacan en Kristeva is gekoppel aan die verbintenis met die moeder en pre-simboliese taal. Hierdie gedig registreer dit helder in die spel met klank en stilte wat ‘n leimotief is regdeur die bundel (“Breath, p. 33). Die titelvers kan as ‘n ars poetica gelees word en die opposisie met klank/stilte word hier uitgebou. Die vader is hier gepersonifieer as die digkuns. Sy begin met die vader in die programvers en hy word in verskillende gedaantes aangetref, ook in drome na sy dood. Daar word dikwels met verlies(e)  onderhandel – in die digter se woorde in die verruklike “The pen”, wat tereg die slotvers is in  hierdie bundel. 

Die verlies aan die vader word konkreet voorgestel as ‘n verlies aan ‘n pen wat sy jare saam met haar gedra het.

Three days before my father died
I lost the silver pen with my name on it,
a twenty-first gift from my aunt
I’d kept for almost ten years.

Nie al die verse moes opgeneem word nie. Daar is ‘n hele paar sandlopertjies,  oftewel verse wat ‘n sterk slot of punt mis (soos “The night before we married”, p. 48 of “The thing you were facing”, p. 56), of verby die natuurlike slot beur. Maar as sy wél die stilte opvang – soos in ‘n handvol puik verse – is die vers dawerend daar.

Fight

in the silence
you wish to take
two steps back
inhale your words    (p. 28)

My gunstelinggedigte is die openingsvers “Give” (p. 9) en die aangrypende “Twin beds” (p. 68) waar die geliefdes se gelukkige samekoms beleef word as die saamplaas van die bedjies teen mekaar; “Sleeping in hotels” (p. 36) waarin die spel met lig en donkerte behendig afgewissel word...en nog vele meer!

Ek was indertyd die sameroeper van die DaimlerChryserprys en Gabeba Baderoon bewys die paneel reg, juis omdat daar soveel ander belowende digters aanspraak gemaak het op die eerste plek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]