Monday, February 25, 2013

Chris Lombard - Driemaster (2004)



Chris Lombard. Driemaster. Protea Boekehuis, 2004. ISBN 1 86919 047 5.

Resensent: Joan Hambidge

In sy bundel Driemaster ondersoek die digter Chris Lombard die lot van die enkleing en alleenreisiger. Dit is verse oor verlange, verworpenheid, die gevoel dat die lewe ‘n soort ‘verspeelde lente’ is, sonder kinders en die geborgenheid van die gesin. Maar dit is juis die krag van die digterlike blik: dat hierdie buite-toestand tot digterlike winste aanleiding gee. In die manjifieke slotvers “Take off” word die lansering van ‘n vuurpyl gelykgestel aan die seksuele ontdekking en ervaring. Dit word ook op ‘n slim wyse ‘n spel met die digproses: die efemere teenoor die durendheid van skryf.

Die tyd stroom onverhaalbaar
uit Dalihorlosies se slap beslag 
(“Oponthoud”, p. 52) 

word bykans ‘n refrein in hierdie bundel.

“Oujaar” moes myns insien die programgedig gewees het vir hierdie bundel: die “enkelmaster” wat eens kortstondige geluk ervaar het in die Witsandnag se volmaanvloed.

“Epitaaf” oor Sergei en Ekaterina Gordeeva wie se sierskaatsverhouding gefnuik word deur sy ontydige dood, kan ook gelees word as ‘n ars poetica: die gedig ontstaan juis weens die kortstondigheid van die waarneming of aanraking.

Die uitstaande “See-siklus” wys die digter op sy beste – veral die vers oor die seeperdjies en die seekat as ‘n ploert wat paring vrees! - terwyl die verruklik distigon, “C’est la vie” die genadelose uitlewering aan ander se afwysing beskryf.

In hierdie bundel slaan die titel dan ook op die posisie tussen verlede en hede wat in die gedig, as ‘n soort versoenende derde ruimte versoen word.

Die bundel bevat dan ook drie afdelings. Daar is die gevoelige waarneming, die melancholiese toonaard so kenmerkend van Lombard se digterlike aanslag. Ook word die verse gekenmerk deur fyn vormbeheer en knap beeldkonstruksies. Die digter is ‘n “skommelaar van die woord” wat uit die “wondverweer se ink” kyk na ‘n wêreld waar oues gesteur word deur die jonges se ge-“rave”. 

Hier is nie ‘n narcissistiese selfbeheptheid nie, omdat elke ervaring op ‘n groter lewenservaring of –waarneming geprojekteer word soos ons lees in “Sterrereën”. Daar is bepaald ‘n eie optika te bespeur, om die digter se eie woorde te gebruik: in “Swerwer op familiebesoek” weet hy sy meetsnoere het buite die familieverband geval.

Wat beslis vermelding verdien is die raak beskrywings van lewe in Bosniese kampe en die vers “Sorrento, 1902” waarin die leser met die kennis van die geskiedenis se afloop die slot as ironies ervaar:

En boonop kan die son oor hulle Ryk nooit sak.

“Klemverskuiwing” waarin die teenstelling tussen woord en syfer uitgewerk word, kan ook as ‘n toespeling op die lot van die digter gelees word, wat hom besig hou met die orakelkuns. “By ‘n Duitse jeugopvoering” lewer versigtig verslag van sensuele begeerte en hoe die mooi jong seun uitgelewer gaan word aan ‘n onsimpatieke wêreld. Die latere “Querelle” speel hierop terug en ons sien en hoor Jean Genet en Fassbinder. En “Vreemdelinglegioene” aktiveer “the love that dare not speak its name”.

Ook die kuberruimte van die erotiek word hier benoem in ‘n vers en een van my allergunstelinggedigte is die vertaling van Raymond Asso se gedig “Piaf oor haar Légionnaire”. 

Heerlik ironies-satiries (‘n groot vaardigheid) is “Wenke vir die entrepreneur”

Die voorblad van die landskapkunstenaar, Strijdom van der Merwe, “Rooi katoendoeke rondom telefoonpaal” is uiters treffend op ‘n belangrike bundel van Protea Boekehuis. ‘n Letterkunde benodig die bestendige bydraes van ‘n digter soos Chris Lombard wat die alleenreis, die enkelmaster, die blom van die vleiroos en boonop die “iris van erbarming” so treffend kan beskryf. Die millennium het goed gedraai. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]