Monday, February 4, 2013

Breyten Breytenbach - oorblyfsel / voice over (2009)




Breyten Breytenbach. oorblyfsel / voice overHuman & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 5071 2.

Resensent: Joan Hambidge

Mahmoud Darwish (Darwiesj) (1941 – 2008) was ‘n leier in die Palestynse bevrydingstryd en ‘n belangrike figuur binne die Arabiese letterkunde.

Hierdie gedig van Breytenbach is ‘n lykdig of ‘n treurvers. En bekend aan die struktuur van hierdie soort vers word ‘n bekende gestorwene vereer. Hier dan deur ‘n mede-digter wat in sowel Afrikaans as Engels met die digter praat, sy vriend en toeverlaat. ‘n Digter wat soos die spreker ‘n stryder was binne ‘n politieke arena. Die gedig is ‘n oorblyfsel, ‘n naskrif, ‘n nawoord. Dit is egter ook op Engels ‘n “voice over”, ‘n filmiese term waarin die stem die storie interpreteer vanuit die agterna-perspektief.

Die bundel getuig van Breytenbach se besondere beeldvermoë: die maan is soos ‘n mandolien, maar ook maagdelik vol (8), terwyl die aangesprokene se skedel soos ‘n skip is. Daar is dan ‘n volgehoue spanning tussen beweging en stolling, tussen die hier en nou. Breytenbach se gedurfde vermoë om telkemale grense verskuif, is eweneens hier aanwesig. Die leser is deurgaans bewus van die verlies wat deur die gedig spreek. Dit het ales begin toe Magmoed se slagaar kronkelend en sloom soos ‘n pers slang gebars het. Die digter is dus besig met ’n bestekopname namens ‘n mede-digter met ‘n gewete. Op ‘n retoriese wyse word die volk dan ook aangespreek en tot orde geroep.  Eers wanneer alle mense begrip het vir ander se ellendes, kan daar van so ‘n begrip, naamlik volk,  sprake wees:

ons sal ‘n volk wees wanneer die sedepolisie
die hoer en die owerspelige vrou gaan beskerm
teen die klip en die klap van die knuppel op straat (28)

Die digter Breytenbach is dus buikspeker vir sy mede-digter.

In die nawoord verduidelik Breytenbach hoe intens sy gedigte vervleg is met die gedigte van Darwish. Hier is dan sprake van verskillende reise: van die lewe na die dood, van een digkuns na ‘n ander en uiteindelik: van selfgesprek tussen Afrikaans en Engels. Die twee spieëltekste maak belangrike stellings oor hoé die digter van een taal na ‘n ander beweeg of reis.

“Ek beskou hierdie fragmente as lofbetuigings. Miskien ook ‘n poging om die sluier te kan wegtrek van die bekende gelaat wat nou stil geword het”(62).

En die noulettende leser sal veel plesiere (eintlik jouissance) put uit die eindelose vervlegtings tussen twee digters se tekste én hoe Breytenbach uiteindelik sy eie Afrikaanse teks verander en subverteer. 

‘n ander dag sal aanbreek, ‘n vroulike dag
deursigtig in vergelyking, geheel in syn gebrand (58)

word

another day will inbreed, froglike and female
transparent in comparison, gavelled in being (59)

Hierdie tekste is helaas nie deursigtig nie. Dit sit vol verwikkelde en opwindende raaisels wat die leser moet oplos. Soos waarom word vroulike herdig in froglike / female / womanly?

En op my beurt lees ek weer hierdie gedig as ‘n briljante gesprek met Julia Kristeva se nooit-volprese studie oor digterlike taal, Desire in language, waarin die siening van poëtiese taal as intiem-vroulik gedefinieer word. ‘n Terug beweeg in die semiotiese of pre-simboliese dimensie. Hierom dan ‘n tersaaklike beeld soos “water sal syfer uit die klip / se skoot” (58).

Dit is ‘n teks, nee eintlik twee tekste, waaragter vele ander skuilhou, wat die liefhebber van die digkuns sal behaag.

Die bundel is ‘n treursang of lykdig.

By geleentheid het die digter hierdie bundel beskryf as ‘n collage, oftewel getransformeerde variasies. Die afskeid van die geliefde vriend is terselfdertyd ‘n bewuswees van ‘n eie nietigheid en sterflikheid.

bo die bouvalle skater ‘n leedvermakerige maan
soos ‘n mal vrou met ‘n stukkende skepbeker
wanneer sy haar gesig in die put sien verrimpel (54)

Onsienbaarheid / unseeingness – niksheid. Hieroor het Breytenbach al so uitgebreid gedig. En die spieëls sal inderdaad aan die stemme gehang word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]