Thursday, January 24, 2013

Valiant Swart - Toorwoorde roep my (2010)



Valiant Swart. Toorwoorde roep my. Lapa Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 7993 5090 6.

Resensent: Joan Hambidge

Almal het al die ervaring gehad om ‘n Afrikaanse lied of song oor die radio of TV aan te hoor met pynlike gevolge vir die oor. Die lirieke geen ‘n nuwe naam aan rymdwang. ‘n Film soos Liefling – die movie het hierdie Kaptein laat dink nee en nogmaals nee. In hierdie verband is Valiant Swart se songs ‘n heerlike afwisseling. Dit het oemf, dit klink lekker op die oor en die kultusfiguur (“vir ouens soos ons”) se bundel Toorwoorde roep my sal waarskynlik ‘n blitsverkoper word.

Op die agterblad vergelyk Danie Marais die sanger met Leonard Cohen. Volgens hom behoort Valiant Swart in Groot verseboek as Cohen in die Norton Anthology of Poetry opgeneem is. Cohen was egter ‘n bekroonde digter voor hy sanger geword het en waarskynlik een van die mees behendige liriekskrywers nóg. Swart is wel ‘n beoefenaar van “rock ‘n roll”-ballades en volgens Danie Marais het hy homself al in die kollektiewe bewussyn van die volk ingegrawe. Inderdaad: soos ouer liedere dit ook al reggekry het soos “Heimwee” wat as lied, veral in die weergalose vertolking deur Mimi Coertze. Dieselfde geld die Boerneef-liedere wat die meeste mense eerder as lied ken, nie as gedig nie.

Wanneer ‘n song of lied gebloemlees word, dan vra dit om digterlike inspeksie. Dan kyk ‘n mens na die ryme, die metrum, die refreine, die beelde. Natuurlik is dit andersoortige, nee eerder, eiesoortige poësie. Dit moet gesing kan word. “die donker kom jou haal” (78) maak dus van herhalings gebruik soos die villanelle  en “kom ons braai” (168) word as ‘n sonnet tipeer met ‘n refrein. Veertien reëls staan hier, maar dit is egter nie ‘n klinkklare sonnet nie. Dit wil waarskynlik ook nie die strikte patrone van rym en metrum naboots nie. As geskryfde sonnet haal dit dus nie heeltemal die paal nie, maar ‘n mens weet dit kan werk as song.

Hierdie versameling bevat sowel Afrikaanse as Engelse bydraes. Daar is  bepaald verse wat onthoubaar is soos “eyeshadow” (67) met sy onthoubare en humoristiese blik op hierdie meisie, wat sowel tragies as komies is:

sy’s ‘n bruistablet verslankie
en sy smaaks (sic!) haar outjies funky

Hierdie digter sing sy songs van die sterre en die maan. Hy sing en skryf en praat in loslit-Afrikaans, gebruik soms ‘n Engelse woord en sing die duisende myl blues oor sy baby. Die bundel het my weer terug geneem na Gert Vlok Nel se gedigte en hoe die song en die gedig bedmaats raak. Binne die Amerikaanse digwêreld dink ‘n mens aan die bekoorlike verse van Billy Collins.

Gunstelinge sal sekerlik vir verskillende lesers anders wees. Hierdie leser het gehou van “Horison Hotel” (91) van reisigers met dieselfde verhale en die melancholiese aanslag van “waar die dromers dwaal” (95).  Is die Engelse woorde altyd sinvol?, wonder ‘n mens. Waarom word “people” in ‘n gedig gebruik? Is dit funksioneel of is ek net outyds?

Die boek is pragtig uitgegee en op die agterblad word die teks in tikmasjienstyl geskryf. Lees gerus as jy jonk van hart is en hou van rock ‘n roll-ballades.  (In die persverklaring word hierdie bundel as nie-fiksie getipeer en debuutteks verkeerd gespel. In die teks vind ons ook ‘n verkeerde spelling van millennium.) Die jongste uitgawe van Groot verseboek neem ook gedigte op uit die Nuwe stemme-reeks en hierom sou ‘n bydrae van Valiant Swart ook sy plek kon vind.

Die idee van wat poësie is (en nie is nie) is deesdae al hoe meer vloeibaar. Die verskillende songs of liedere of lirieke se vorme vra vir ‘n studie: Hennie Aucamp, Koos du Plessis, Gert Vlok Nel, Valiant Swart, Roof Bezuidenhout...

Hier’s soul en blues en rock ‘n roll-ballades. Die titel kom uit “oosweswals” (98):

langs die onderste bome
oor die solders van die Noorde
toorwoorde roep my
ek’s droomverlore
daar staan ek op die teerblad
langs my bakkie met my sweetheart
daar’s ‘n kragdraad en ‘n weerhaan
en ‘n silwer karavaan
    
[Hierdie resensie het vantevore in Die Volksblad verskyn.]