Monday, January 21, 2013

Tom Lanoye - Sprakeloos (2011)




Tom Lanoye. Sprakeloos. Protea, 2011. Vertaling deur Daniel Hugo.

Resensent: Joan Hambidge

Sprakeloos van Tom Lanoye, uitstekend vertaal deur Daniel Hugo, handel oor die moeder van die skrywer, Lanoye wat weens beroerte haar spraak verloor. Die boek is egter meer as dit. Dit word ’n komplekse analise van gesinslewe, ‘n verslag van coming out, en veral, ‘n rapport van hoe die skrywer Lanoye opereer. Ek gebruik die woorde met opset: alles is vir hom ‘n vertoning en in die spore van die moeder, ‘n amateur-aktrise, word die leser aan die keel gegryp in ‘n eerlik-onthullende fiksionele outobiografie van hierdie Vlaamse suksesverhaal. Die leser word van meet af aan gewaarsku om die boek opsy te skuif as dit hom/haar nie behaag nie. En ‘n belangrike interteks is Sarabaya Johnny waardeur die vervleggings van ambivalensie, liefde en haat, vertel word.

Surabaya Johnny. Is it really the end?
SurabayaJohnny. Will the hurt ever mend?
Surabaya Johnny. Oh, I burn at your touch.
You got no heart, Johnny, but oh, I love you,
I love you, I love you so much.


Ek lees Sprakeloos veral as ‘n verslag van die skryfproses. Lanoye neem o.a. standpunt in teen die siening dat “less is more”. Nee, deklameer hy, die ware skrywer wil meer onthul en word eintlik eers ware skrywer as hy die ware vertelling laat voortrol. Proust se moeder moes eers sterf alvorens hy sy magnum opus kon skep. Dit is dan waarskynlik ‘n teks wat die skrywer na die dood van die moeder in al sy veelkantigheid kon vertel. Sonder skroom; ook die embarasserende oomblikke wanneer ‘n doek omgeruil word of die moeder se manipulerende persoonlikheid (sy herinner graag dat die skrywer sy talent aan hule te wyte het of sal by een van haar shows hom by die naam noem).

Die moeder, ‘n amateuraktrise, se invloed word op die skrywer gekarteer. Moedertaal en optredes en diegene wat Lanoye al sien (en hoor) voorlees het, sal die teatraliteit nou beter begryp. Hierteenoor staan die vader, die slagter (hy is ook al bekend aan lesers) as haar teenspeler.

Die leser word van meet af aan medepligtige van hierdie verhaal, wat jou laat lag en huil. Dit is ‘n relaas van ‘n beroerte, word die leser sommer dadelik meegedeel. Die moeder het eers haar spraak verloor, toe haar waardigheid en uiteindelik haar hartklop. Die moeder is vertolker en liefhebber van die gesproke woord. Die seun is skrywer én ‘n voordragkunstenaar uit eie reg. Humor word dikwels ingespan om die ellende te versag – soos die moeder ook uiteindelik doen wanneer sy ander oues naboots in passasies wat jy nooit sal vergeet nie.

Koop iets anders, leen iets anders, steel iets anders, waarsku die verteller (soos in If on a winter’s night a traveller) as jy nie hou van hierdie soort boek wat sowel ‘n klaagsang as ‘n betreding van privaatheid is, of wat mense dan mag dink dit is. Dit is waarskynlik ook nie ‘n roman in die konvensionele sin van die woord nie, word ons verder meegedeel; dit gaan immers oor die lewe self.

En op hierdie speelse wyse word al die kaarte op die tafel geplaas en word die storie in verskillende hofies of afdelings aangebied, soos “hy (of: die verhaal van die verhaal)”, “sy (of: stomgeslaan), “ek (of: en wat nou)”.

Sprakeloos is ‘n dubbelverhaal op verskillende vlakke: moeder en seun, maar ook Vlaams en Afrikaans. Daniel Hugo se behendige vertelling maak van hierdie roman ‘n besondere leeservaring. Dit is die soort roman wat jy wens nooit wil ophou nie. Jy lees dit en dikwels moet jy dit vir ‘n ruk laat weens die aanslag op jou sinne, jou verbeelding en veral jou gemoed. Uiteindelik laat dit jou sprakeloos oor die eerlikheid en talent van hierdie skrywer.

Alle dank aan Protea vir die vertaling.

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]