Tuesday, January 29, 2013

Rian Malan - Resident Alien (2009)



Rian Malan. Resident Alien. Jonathan Ball, 2009. ISBN 9781868 423569

Resensent: Joan Hambidge

Jare gelede, op die voorblad van Esquire, vertel Rian Malan hoe hy Afrikaans, die Afrikaner en apartheid ervaar het. Ondertussen het daar na My traitor’s heart baie water in die spreekwoordelike see geloop. Hy het nou onlangs in BY saam met Pik Botha verskyn. (Terloops, dit is ‘n interessante verskynsel hierdie saam-bring van teenstrydige figure: Zuma en Steve Hofmeyr, nou onlangs.)

Resident Alien – wat beskryf word in die London Times as Suid-Afrika se Hunter S. Thompson – bevat 27 artikels (ek huiwer om die woord essay te gebruik) waarin die aard van ons uiters komplekse land beskryf word. Om hierdie soort boek te geniet, moet jy uiteraard “inkoop” in die persona van die skrywer en nie om dowe neute nie, word die boek aangeprys deur Koos Kombuis wat Malan as ‘n “one-man cultural revolution” beskryf. Kombuis is self ‘n ikoon wat of teenstand of goedkeuring ontlok. Lin Sampson, daardie skerp stilis, beklemtoon weer hoe goed Malan skryf.
Maar skryf is nie al wat ‘n persoon van hierdie soort boek moet kan doen nie. Jy moet bereid wees om vreesloos en kompromisloos te wees en ‘n as’t ware onder die vel van jou subjek in te klim. Sy bydrae oor Winnie Mandela presteer dit (“The Queen”). Hier bely hy openlik hoe meegevoer hy was met haar en dat hy selfs aangebied het ‘n bydrae te skryf vir die Sunday Independent in Londen. 

Ek kies spesifiek hierdie bydrae, omdat dit my ook meegevoer het en veral deur Biskop Tutu se uitermate simpatieke reaksie. Hy het haar soos ‘n mens hanteer; nie ‘n monster nie. En haar reaksie het weer ‘n strydpunt geword in vele gesprekke oor Winnie Mandela en familie-etes op Sondae het tot twisgesprekke aanleiding gegee. Rian Malan beskryf daardie dag, en presies hoe ons gevoel het. Hy vang die ambience op, ons voel Winnie se krag. En hy het ‘n alter ego wat hy aanspreek: Governor Mntonga, ‘n huisskilder van Malawi: dus terselfdertyd swart en ‘n buitestaander wat dan die illusie van ‘n ‘objektiewe’ gespreksgenoot skep.

Die kragonderbreking en die gebruik van ‘n toorkuns-beeld uit monde van die gespreksgenoot, is slim gekies. Hiermee word daar onmiddellik ‘n verskil tussen Afrika en Westerse waardes uitgebou. Die dood van Stompie Seipei beskryf Rian Malan asof daar ‘n klein drama voor die leser se oë ontvou. Maar hy doen dit soos dit ‘n goeie dramaturg betaam: jy moet self die oordeel vel. Sy beskrywing van Mevrou Mandela se kleredrag en bril wat aan haar ‘n soort reptiel-agtige kwaliteit gee, wys hoe vernuftig hy kan beskryf. Ons beleef dus hiermee die dénouement of wending in die vertelling: “She looked like a turtle, heavy, slow-moving, totally nerveless and inscrutable behind her tinted lenses”(215).

Hy wys hoe ons almal bykans gehipnotiseer is deur hierdie vertolking. En dis bykans asof Malan deel word van haar getuienis en binnespraak. Hy vertel nie meer nie; hy vertolk hoe sy verdedig, wal gooi, terug kap. Die hele klein drama vang hy vas: en hoe Winnie se jammer nie ‘n jammer was nie. Die skrywer het die vermoë om met ‘n penstreep ‘n persoon of situasie vas te vang. Hy weet wanneer hy met ‘n cliché werk en maak dit vars en opwindend voor jou oë. Soms is daar die (ongevraagde?) kru opmerking(226). Maar dit is die blik-van-buite wat verander het na die blik-van-binne. Uit hierdie boek kan jy agterkom hy hou nie van oordrywing nie (of dit nou oor Vigsyfers of joernaliste is wat gesterf het onder die apartheid-régime); hy is ‘n ondermyner van sosiale orde; hy is dwars en eiewys. Daar is vele juwele in hierdie teks: waarvan die onderhoud met en analise van J.M. Coetzee beslis uitgesonder moet word.

Hierdie leeu slaap beslis nie.


[Hierdie resensie het vantevore in Die Volksblad verskyn.]