Tuesday, January 29, 2013

Lina Spies - Die skyn van tuiskoms (2010)



Lina Spies. Die skyn van tuiskoms.  Human & Rouseau,  2010. ISBN 978 0 7981 5144 3.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Keuse uit die digwerk van Lina Spies is gemaak deur die digter Johann de Lange en dit heet: Die skyn van tuiskoms. Spies beklee ‘n besondere posisie binne ons digkuns as ‘n digter wat op ‘n uitsonderlike wyse die posisie van die kinderlose vrou onder woorde gebring het. Sy is hier benewens ‘n vrouedigter wat ‘n pynlik-onthoubare lykdig geskryf het: “Op die dood van Riëtte”, ‘n politieke vers, “’n Paternoster vir Suid-Afrika” wat kanonieke status verwerf het, gedigte oor komponiste (veral Mozart) en die landskap.

Verder is daar gevoelig-onthoubare verse oor Amsterdam, Parys, die Vrystaat, Utrecht, Emily Dickinson en ‘n gesprek met ander verse oor Marilyn Monroe: Marilyn Monroe; Foto in goud”. Nostalgiese verse en gedigte oor die natuur is opvallend. Skilders word beskryf en die mentor D.J. Opperman word via sy eie beelde beskryf; ‘n skryfwyse waaroor sy al krities was by ander digters. Daar is verse oor die godsdiens en familiefigure: die letterlike en die simbolies-digterlike verbintenisse.

Sy staan iewers tussen Elisabeth Eybers, Ina Rousseau en Antjie Krog. Sy skryf oor vrou-wees, dikwels in belydende verse met ‘n sterk klem op die ritmiek van die gedigte. Dit is verse wat gehóór wil word.

Nie om dowe neute nie staan daar vele gedigte in hierdie keuse wat oor die musiek handel. En die digkuns wanneer dit tref, is soos die musiek: dit kan nie in woorde besê word nie. Dit is dan wat Kristeva, in navolging van Lacan, so treffend opgesom het met die woord jouissance. Tog moet die digter woorde gebruik om daarby uit te kom, soos die musikus met note werk. 

Die keurder van ‘n bundel streef om die belangrikste temas van ‘n digter vir ons te gee en die beste vergestalting van daardie digter se bydrae. Mindere gedigte of herhalings val dus weg en die essensiële oftewel die handtekening van die digter word hier uitgestal.
Dit is tereg ‘n beleë digterskap wat nie na waarde geskat is in die jongste Groot verseboek nie. Soos in die geval van I.L. de Villiers kom hulle werklike bydrae nie genoegsaam na vore nie. 

Haar uitsonderlike digterskap word deur De Lange vir ons weergegee: en op die agterblad staan daar dat ons by haar soms ‘n ontvlugting in die taal in vind na ontnugtering. “Want vir Spies is taal ‘n landskap op sigself, ‘n tuiskoms”. En hierdie tuiskoms is die semiotiese in Kristeva se terme.

Die nostalgie en die elegie is die belangrikste gevoel wat by my opkom ná die lees van hierdie keuse. Die verlange, die gevoel van ontheemding, die soeke na vervulling wat sterk gekoppel word dit wat Julia Kristeva beskryf het as die binne-gaan van die chora, dáár waar waar poëtiese taal skuilhou. By vrouedigters is daar of opstand – soos by Krog of heimwee (melancholie/nostalgie) oor die vervulling wat uitbly.

Daar is agt bundels gepubliseer: Digby Vergenoeg (1971), Winterhawe (1973), Dagreis (1976), Oorstaanson (1982), Van sjofar tot sjalom (1987), Hiermaals (1992), Die skaduwee van die son (1998) en Duskant die einders (2004). Die herdigtings en vertalings van Emily Dickinson heet ‘n Ruiker vir Emily (1995).

Slegs Van Sjofar tot sjalom was nie op peil nie: waarskynlik weens die satiries-skril aanslag wat nie haar métier is. Die sagte verse wat handel oor verlies, die elegie, dit is die ware Spies. Die skyn van tuiskoms is dus ‘n vergestalting van die onmoontlikheid van ‘n terugkeer na die chora; terselfdertyd ontgin poëtiese taal hierdie spanning.

Die verlange is die asem van die poësie. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]