Tuesday, January 29, 2013

Lesing: I.L. de Villiers [Woordfees 2009]

I.L. de Villiers (1936 - 2009)

I.L. de Villiers: Woordfees (2009)

I

Met sy debuut Leitourgos (1972) tot die slotbundel Vervreemdeling (2008) is die leser deurgaans bewus van sy besondere aanslag. Tussenin is daar Manna oor die duine (1974), Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en vreemdeling (1978) en Jerusalem tot Johannesburg (2005).

Izak de Villiers het veral met sy laaste twee bundels, Vervreemdeling en Jerusalem tot Johannesburg hom by uitnemendheid bewys as ’n digter van formaat – iemand wat verstegnies en veral met sy beoefening van die distigon en tersine ’n besondere bydrae gelewer het tot die Afrikaanse digkuns.

Vir my is en was De Villiers se digkuns nog altyd ’n aantreklike vermenging van die diep religieuse en die aardse. 

Met sy debuut Leitourgos (1972) tot die slotbundel Vervreemdeling (2008) is die leser deurgaans bewus van ’n enorme vakbeheer. 

Tussenin is daar Manna oor die duine (1974), Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en vreemdeling (1978) en Jerusalem tot Johannesburg (2005). 

In die jongste Groot verseboek is hy wat my betref onderwaardeer en ’n mens besef skielik dat veral die laaste twee bundels waarskynlik nog ’n impak moes maak op die keurders en kanoniseerders. (Daar is vanselfsprekend ook ander publikasies: essays en religieuse mymeringe en ’n boek oor depressie.) 

’n Digter word immers onthou aan die verse wat klassieke status in sy taal bereik het. In hierdie opsig is “Huisbesoek” beslis so ’n klassieke vers. 

So ook “Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself”:

as niks meer heilig is nie
word alles heilig
en die wind waai waar hy wil

En in die aangrypende vers “Dit is volbring” skryf hy:

mens sien pas voor die oomblik van die dood
glo prente van tevore, kiekies uit ’n laai 
wat lank daar lê: die skoolkonsert, die groot
party, son op die agterstoep, ’n skaaprib bruin gebraai

Vir my persoonlik is die gedig oor sy vader, “Nagedagtenis”, een van die sterkste en aangrypendste gedigte van ’n kind oor ’n vader in Afrikaans. Ons weet hoe min geld daar in die sak van hierdie stil vader is en die gedig eindig met die tréffende slot:

’n notaboekie 
L. de V. gekoop Berlyn Kersfees 1936 Hebr. II vs. 13, 14
sê jy het ’n vaderland gesoek

De Villiers was ’n predikant en koerantman. In sy bundels vind ons talle religieuse gedigte en veral in Jerusalem tot Johannesburg is daar ’n besonder aangrypende vers oor die religieuse digter Sheila Cussons. In hierdie gedig word daar in gesprek getree met haar digkuns en kommentaar gelewer op die mens wat as spirituele wese altyd deel bly van die onvolmaakte wêreld uitgelewer aan vlieë wat oor alles loop.

In die titel sien ons dan ook die paradoks wat regdeur hierdie werk loop: dit is die digter van die aardse, wêreldse bestel teenoor die religieuse. 

Ek dink ’n mens sou hom kon tipeer as die digter van die nostalgie, maar nooit as sentimentele digter nie. Daarvoor is die tegniese beheer so dwingend dat dit die sentimentele of emosionele oordaad uitwis. Veral in Vervreemdeling, sy slot bundel, word al die temas saamgebind.

Ons vind dikwels die epifaniese moment in sy digkuns, daardie oomblik waar iets oopgaan of ’n moment verhelderend voor die waarnemer staan.

Uiteraard was De Villiers ’n komplekse persoon: sowel joernalis as religieuse mens en die gedigte verraai iets van hierdie twee pole. In die digkuns egter word die teenstrydighede versoen, dikwels in aangrypende verse wat om die vormbeheer veral imponeer.

De Villiers het eweneens uitmuntende lykdigte geskryf – waarvan die een oor sy vriendin Lorna Vosloo my waarskynlik altyd sal bybly.

By die heengaan van Lorna 
7 Augustus 2007

Ek dink vandag: die tyd het ook vir jou gekom,
die tyd waaroor ons skaars gepraat het oor klein bordjies

braaibrood en “anchovies” oorkant by die Portugees
vir ons gereelde middaghappie in dié donker klein kafee.

Net soms het ons ‘n entjie verder in die Tuine opgery
na Zerbans vir sterk koffie en hul brood met spesery –

ons enigste baklei was wie betaal en of ons nog wou sit
en mense kyk en voorblaaie bespreek en van die wit

koek in die glaskas eet. Jy het soms naarstiglik gekrap
in jou groot handsak, lesersbriewe uitgehaal, interessantes,

al die vrae vir jou raadrubriek, óf ‘n artikel wat jy dink
ons dalk moes koop of self verwerk, en wéér koffie geskink.

Partykeer het ons effe laat by die kantoor gearriveer
waar vriendelik gespot is of ons groot “affaire” floreer!

Ek het daaroor gekorswel, jy het bloot gaan sit
agter jou rekenaar netsoos ‘n edelvrou, en stip

jou skerm eers bekyk en begin tik, jou digte gryswit
hare in ‘n klein swart strik. Só het jy laat gesit

totdat jou man sou huis toe gaan en jy het uitgeglip
met net ‘n sagte groet. Ek was bewus van jou begrip

van mense, jou vaste vat op jou beroep, jou hulp
en jou deurdagte raad. (Daar was ‘n vrou wat ons wou kul

met ‘n promosie:  jy het net sag met my gepraat,
eenkant, gesê daar’s min te wen ons moet dit liewer laat.)

Jy was ‘n kameraad, ‘n gasvrou en ‘n stil vriendin –
maar nou is jy weer van die groter ruimtes kind.

Dit laat ons met ‘n spieëling op water: die herinnering
dat gister goed was - sout en soet - voordat die donker sou begin,

voor dit weer helder lig word in ruimtes van vergeet:
die vryheid waar ons eintlik tuis is, maar net God van weet.

Op hierdie Hoëveldse dag met wintermis en koue weer
wil ek jou nog laat lééf en sonder trane oor jou treur. 

Lorna Vosloo. Oorlede 7 Augustus 2007


Droom van Chicago

Jy was ‘n somer  van ‘n plek waar vreugde soos ryp takke perskes hang
oor elke straat; die Watertoring waak en Sears & Roebuck dag en nag bly wink.
Jy was my hele buurt. Eendag het ek seepblasies met kinders probeer vang:

Wij blazen bellen aan de afgrond… Sondae was daar die Chicago Symphony,
die kunsvendusies - Renoir, Dali - vaarte op die meer, net om jou kimlyn te beleef:
dit het in son en kleure uitgevlam, Monet se Rue Saint-Denis - die fees van 30 Junie. 

Hoe wáár was jy: ‘n stad waar moorde ook mooi name kry: Saint Valentine - 
jy van die Bunny Girls, die olie-en-effektebeurs, die Sun Times en die brug wat lig,
romantiese rampokkers, ou Mayor Daley se klein huisie met die breë Stars & Stripes?

Nou is jy na die jare net ‘n manjifieke bouval van ‘n droom, my stad.
Ek weet ook dít sal alles wegkwyn in die wanhoop van die noordewind.
Ek hoor in nanagte die meer se kabbels fluister waar ek oor die kuspad stap;

die eggo’s klink al hoe gedempter in die woude van my winterhart.
Die treintjies ratel nog, maar dof, hoog oor die strate winkels, aan ‘n ysterspoor.
Graffiti op ‘n muur – Alice, please phone Daddy! – snik ‘n pa se smart.

Die aandverkeer kruip aan in rooi remligte, stringe soos ‘n Kersfeesboom.
Alarmklokke lui langs die rivierkanaal, ‘n boot seil op, die brug gaan oop.
Straatligte bewe dounat; ek slenter saam met ander anorakke langs die stroom.                 

(Daar was soms optogte: aborsie, doodstraf, pikante moelahs teen die sjah -
die sweet het in hul baarde afgetap, elk met sy tjips en Coke en hamburger,
en met een vuis gebal. Hoe ver, onwerklik, was Iran, Irak, Suid-Afrika.)

Het ek jou in my hart gebou ? My vliegtuig het geluier op O’Hare se aanloopbaan.
Het ek jou toegedraai in blinkpapier? Waar is die glans, die perskes aan die tak ?
Eenkant in ‘n verligte saal het ek-in-jonkheid vir myself gewuif én daar bly staan.

[Hierdie lesing is tydens Woordfees 2009 gehou & word met vriendelike vergunning van die organiseerders hier gepubliseer.]