Thursday, January 31, 2013

Johann Lodewyk Marais - Diorama (2010)



Johann Lodewyk Marais. Diorama. Protea  Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 365 3.

Resensent: Joan Hambidge

Sedert sy debuut, Die somer is ‘n dag oud, wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys, het die digter Johann Lodewyk Marais omgewingspoësie begin ontgin en ‘n bundel ter viering van Marais se “Winternag” gepubliseer: Honderd jaar later.

Hy skryf gereeld oor die figuur, Eugène Marais, veral op die Versindaba se webruimte. Hy het ‘n doktorale proefskrif voltooi oor Marais se wetenskaplike en natuurprosa.

(Terloops, op die publisiteitspamflet word daar verwys na “Wintersnag”). Daar was ook ‘n reisboek oor Mosambiek en versamelbundel oor ekologiese gedigte: Ons klein en silwerige planeet (saam met Ad Zuiderent).

Die jongste bundel heet Diorama en is ‘n voortsetting van die bundel Aves wat oor voëls gehandel het.

Die outydse voorblad is deur Thomas Baines (Herd of buffalo, opposite Garden Island, Victoria Falls, 1862).

Diorama dan in die sin van die skaalmodel van ‘n landskap of  historiese momente.  Die digter nooi dan ook die leser in die programgedig uit:

Ek wil in my gedig ‘n wildtuin skep 

en jou uitnooi om ‘n besoek te kom bring (13)

En wat ‘n uitnodiging is dit nie! Die leser beleef ‘n springhaas, maar terselfdertyd word dit ‘n meditasie oor die skryf van ‘n gedig. In die vers oor “Streepmuis” (22) word die onmoontlikheid van die proses vergelyk met die vang van ‘n streepmuis en die bladsyverwysings na die boek waarin jy moet blaai, dui op die intertekstuele proses van sowel die skryf as die lees van ‘n gedig. (In “Rooiduiker”, 38 byt die gedig in die stof!) 

Soos dit ‘n goeie digter betaam, is die gebruik van ou patrone nie aan hom onbekend nie soos in die voortreflike, “Gevlekte hiëna” (23), ‘n soort villanelle, met sy herhaling van twee reëls en die gebruik van twee rymklanke. Heel vlot beweeg hy dan na die kwatryn met “Luiperd” (24). Later is daar ‘n handvol haikoes. Marais se digterlike handtekening is om met die gestroopte vers te eksperimenteer en “Wildehond”(27) bewys hoe goed hy dit kan doen. Die “fyn besonderhede” van die optekening is opvallend en die digter maak opwindende poësie oor wilde diere en plante. Daar is toespelings op bekende gedigte en ‘n in-grappie oor die “Okapi” (35) wat bloot as “Aha!” aangegee word.  Met die konkrete voorstelling word ook geëksperimenteer in “Rietduiker” (45) waar die uitgespreide vlerke oor die bladspieël staan.

Marais het in sy debuut, Die somer is ‘n dag oud, aangrypende verse oor sy jeug geskryf. In hierdie bundel keer hy terug na die landskap van sy jeug: nou is daar plaasmoorde en aanvalle. Die tuin van Eden is aangetas. So beskou word die diaroma dan ‘n representasie van sy digkuns én persoonlike ontwikkeling. Die beeldgedigte is suiwer: ‘n mens kry ‘n portret van ‘n bekende soos Jan Smuts, Richard E. Leakey, Jane Goodall, e.a. Dit word egter nie dordroë navorsingsgedigte nie, maar verse wat ontroer en tref. Tobias maak ook ‘n draai hier en selfs Saartje Baartman is verïkoniseer.

Daar is uitstekende verse in hierdie bundel soos “Die brein” (15)

En “Springhaas” (21).  En die volgende juweel het onlangs op die Versindaba se webblad verskyn:

Diego Maradona

Die vlugvoetigste is Maradona
met ’n durende veggees in sy bloed.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

Kleintyd het hy ’n sokkerbal geja
en teenstanders gesystap met sy spoed.
Die vlugvoetigste is Maradona.

Gou het hy met sy flinke rabona
die klubs ’n prys laat betaal vir sy voet.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.
           
Oral in Napoli en Sevilla,
op én af van die veld, was hy verwoed.
Die vlugvoetigste is Maradona.

Sy aangee na Jorge Burruchaga
het die hele Buenos Aires laat toet.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

In ’n stampvol en luide Azteca
erwe hy die Wêreldbeker se soet.
Die vlugvoetigste is Maradona.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

Die gesprek met Van Wyk Louw, soos die debuuttitel en die bundel oor die omgewingsgedigte suggereer, word voltrek in die gedig “Ex unguine leonem” (85). Daar is gestaltes en diere in hierdie voortreflike, netjies-afgewerkte bundel. Die spel tussen verhulling en onthulling word deurgaans goed hanteer.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]