Wednesday, January 23, 2013

Fanie Viljoen - Grilbrigade (2010)



Fanie Viljoen. Grilbrigade. Human & Rousseau, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

Om vandag ‘n kinder- of jeugverhaalskrywer te wees, beteken dat jy moet stelling inneem téén die moderne media en tegnologie: selfone, MXit, en al die ander verskynsels bedreig en daag die kinderverhaalskrywer uit om iets te skep wat die jong leser sal boei. Hoe kry ‘n mens dit reg om steeds te midde van soveel foefies die jong kind se verbeelding te stimuleer? Wel, jy bou jou verhaal rondom hierdie verskynsels: Carina Diedericks-Hugo het reeds in haar Thomas@-reeks gewys dat dit gedoen kan word en die leser word selfs verwys na die internet of ‘n interaktiewe “game” (speletjie klink so outyds) af te laai.

Fanie Viljoen begryp ook iets van hierdie kompleksiteit met sy verhaal Grilbrigade, pragtig uitgegee deur Human & Rousseau en met skitterende illustrasies deur Luan Serfontein.

Dus ‘n uitstekende kinderverhaalskrywer en uitmuntende illustreerder kom hier bymekaar uit in ‘n boek wat lekker lees. Daar is ook QR-kodes vir besoeke op Facebook of ‘n kuier op Fanie se webwerf.

Wil jy weet van die Grilbrigade? Beslis. Lees hierdie boek en koop dit vir jou jong kinders. Net een beswaar: sou ‘n mens in moderne tye ‘n jeugkarakter Buks noem? Ons het al ‘n Jasper en Trompie gehad. Maar is die naam Buks “cool”? Ek dink nie so nie. Nietemin ‘n wonderlike avontuur saam met die Grilbrigade.

Ek lees graag Alice Miller se studies oor kinderpsigoanalise, soos The drama of being a child en hierom geniet ek kinder- en jeugboeke. Die terugkeer na jeugboeke, beweer kenners, het dalk iets te make met die tyd toe jy nog gelukkig was. Daardie oomblik voor jy jou onskuld verloor het en Carina Diedericks-Hugo het in ‘n radio-onderhoud opgemerk dat die jeugboekskrywer sy/haar beste werk lewer juis deur terug te keer na daardie oomblik. Die soort (jeug)boek waarvan jy hou, verraai dan ook iets van jou. Ek is gaande oor Saartjie Baumann en die Maasdorp-reeks. A, dr Serfontein doen dit ook vir my. Dis hoekom ek nooit die volmaakte man kon vind nie.

Dit is vandag wonderlike tye vir die kind. Daar is soveel insigryke kinder- en jeugboeke. Ek gaan beslis nie Grilbrigade weggee nie!

[Hierdie resensie is vantevore op Fine Music Radio gebruik.]