Monday, January 21, 2013

Daleen Venter - Om te skryf (2012)




Daleen Venter (Red). Om te skryf. Van Schaik Uitgewers, 2012. ISBN 978 0 627 02987 5.

Resensent: Joan Hambidge

Langs die bekende kompendiums vir voornemende skrywers is hierdie dikke boek ‘n waardevolle handleiding. Kan ‘n mens iemand leer skryf? Bepaald, mits die persoon besef dat skryf ‘n ambag is en dat jy sekere tegnieke onder die knie moet kry.

Dus om te skryf, beteken dat jy moet kennis neem van ander se werk sodat jy kan sien wat is reeds gedoen in jou taal (en genre) sodat jy nie herhaal of afsteek by gevestigde name nie. Meer nog, jy kan dalk die aftog blaas indien jy besef dat dit wat jy wil skryf reeds beter gedoen is deur ander skrywers voor jou. Goeie literatore is nie noodwendig goeie skrywers nie.  Uitgewers kan goeie raadgewers wees, maar self sukkel om iets van waarde te lewer. (Daar was maar min kere ‘n T.S. Eliot op die toneel.)  Deurwinterde dosente beskik miskien oor teoretiese kennis, maar faal wanneer hulle kreatief werk.
Daar is baie skryfskole en -kursusse in Afrikaans. Party mense reageer snedig op hierdie kursusse en maak mentors die verwyt dat hulle epigone skep of boeke wat nie werklik dwingend goed is nie. Dit is wel so dat skryfskole die droogte in die digkuns opgehef het.

Die boek is gebaseer op Kane en Peters se Writing Prose: Techniques and Purposes (1986) en bekende en minder bekende skrywers het meegehelp. Daar is vertalings van bekende tekste soos Johann de Lange en Henriëtte Loubser se “Die kwaad van my storie” deur T.E. Lawrence, James Thurber se beroemde “Die eenhoring in die tuin”, vertaal deur Yvonne Beyers. Hoe lekker is dit nie om Auden weer te lees nie.

Elke bydrae word deur vrae vergesel wat die leser/leerder dwing om na die sub-teks van die teks te kyk. Die boek bevat afdelings: skryf oor jouself; skryf oor ander (die sogenaamde karakterskets); skryf oor plekke en dinge; oor gebeure; oor idees en oortuigings; skryf om te definieer; skryf om te oorreed; om te begin en te eindig; skryf oor kuns en media; stylkwessies…

Bekende buitelandse name staan langs ‘n plaaslike produk. En goeie skryfwerk, of dit nou in ‘n vertaling of in Afrikaans is, voldoen aan dieselfde standaarde, naamlik om met so min woorde as moontlik tot die punt te kom. Om ‘n begin en ‘n slot bymekaar uit te bring. Om te kan suggereer. Om die gespierde sin te kan skryf.

Elke goeie skrywer op aarde skep egter sy / haar eie reëls wat dikwels onnabootsbaar is. Hierom praat ons van die Hemingway-handtekening. Of die arm man se Oprah Winfrey/Tom Wolfe as die nabootsing flets is.

Die leser word voorsien van skerpsinnige kommentaar soos oor William Styron se “Die pottebakker se grond” wat as impressionisties beskryf word en terselfdertyd “uitwaarts” beweeg na ‘n breër emosionele en filosofiese besinning.

Daar word ook ‘n handige afdeling gewy aan die koerantberig deur Bun Booyens. En deurgaans is die subteks van hierdie boek: daar bestaan verskillende soort skryfwerk wat verskillende oogmerke of doelwitte het. Die tradisionele rubrieke vir skryf behels: vertelling, beskrywing en kommentaar. (Wanneer laas het u liewe leser die woord pennevrug of boerebedrog gelees?) Jy kan ‘n iPad wen indien jy wys op feitelike foute of spelfoute of waar ‘n belangrike insig gemis is. En jy kan / mag ‘n beter Afrikaanse teks voorstel, maar dan moet jy dit ook van vrae en voorstelle voorsien.

Dit is ‘n uitsonderlike boek wat onder andere Flannery O’Connor se klassieke essay bevat “Die skryf van ‘n kortverhaal” en John Ciardi se “Robert Frost: Die pad na poësie”, ‘n aanbevole werkstuk vir skryfskool-deelnemers.

Opperman en Van Wyk Louw is ook hier nes Audrey Blignault. Binne een vakgebied kan daar meerdere toonaarde vereis word en dit word geïllustreer aan die hand van twee hofuitsprake van Johann Kriegler. Kennis van die reg is nie nodig om hierdie skryfwerk te geniet nie, wel konsentrasie! Die figuur J.C. de Wet se “Die stipulans, die promittens en die derde” verduidelik waarom die professor soveel gesag afgedwing het.
F.L. Lucas se “Bedagsaamheid teenoor lesers” dra die waarskuwing dat ‘n mens verkeerd verstaan kan word.

Ten slotte, in die woorde van Defoe: goeie styl moet deur almal verstaan word…
Of in die gevleuelde woorde van Lucas: Die meeste onduidelikhede is ‘n onverdunde en onnodige euwel.

Die boek herinner ‘n mens opnuut daaraan hoe groot skrywers – soos Molière en Faulkner –  hul werk aan hul kokke en manlike bediendes voorgelees het! En as hulle dit nie verstaan het nie, is dit gewysig totdat hulle dit verstaan het. Kyk hoe helder formuleer Clay Shirky nes Dylan Thomas, daardie ongelooflik kragtige digter, in ‘n stuk “Sir Philip Sydney”. Of die wenke van Hilaire Belloc. Eweneens word daar klem geplaas op die konkrete waarneming bó abstraksies. Filosowe soos Plato, Degenaar en Wilhelm Jordaan se lewenswyshede verpak in helder woorde.

En nou onthou ek die gevleuelde woorde van ‘n leermeester aan universiteit: daardie man se styl is so lomp soos ‘n mier wat deur heuning beur!

Skaf hierdie boek onverwyld aan. Dit is nie net ‘n deurstopper nie. Ek het twee eksemplare: een van hul word geskenk aan Crito vir die onverdrote ywer om resensente se skryfwerk op die skaal te plaas en te torring.

Hierdie boek neem beslis ‘n ereplek in langs Hennie Aucamp se Die blote storie.

Ek gaan dit beslis voorskryf vir my studente.

[Hierdie resensie het voorheen in Beeld verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die resensent.]