Monday, January 21, 2013

Carel van der Merwe - Skaduwee (2012)




Carel van der Merwe. Skaduwee. Umuzi, 2012.

Resensent: Joan Hambidge

Carel van der Merwe het hom binne ‘n kort periode gevestig as ‘n skrywer van spanningsromans soos Nasleep en Geldwolf. Hy het die gesogte Eugène Marais-prys verower.  Die skrywer skryf sowel in Afrikaans as Engels. Ek is op rekord dat ek Geldwolf in een sitting deurgelees het.

Die jongste roman word gepubliseer deur Umuzi en het al die bestanddele vir ‘n ontsnappingsroman. Paul du Toit het hom in die Verenigde Koninkryk kom vestig. Hy is ‘n man met ‘n verlede wat Suid-Afrika tien jaar gelede verlaat het. Hy is middeljarig, geskei – boonop is sy werk vervelig en sy huidige verhouding werk nie. Alles dus aanwysings dat hy oop is vir iets nuuts (gevaarliks) en eintlik psigies ‘n bietjie onstabiel dus. Wanneer hy dus ‘n opdrag ontvang van ‘n ryk Londense finansier wat hom terugneem na SA, dus die ruimte waarheen vandaan kom, besef die leser instinkmatig – en veral die leser van spannings- en misdaadverhale of –films – dat die karakter binne ‘n gevaarlike ruimte gaan inbeweeg.

Nou onlangs het ek die eerste drie reeks gekyk van Damages met Glen Close as die onoortroffe, meesterlike en bedriegende Patty Hewes. “Cliff hangers” wat van een episode na ‘n volgende geskep word, sorg vir spanning. Boonop is die storieplan meesterlik uitgewerk – byvoorbeeld: sy het ‘n seun uit ‘n vorige verbintenis wat dus as’t ware ‘n “oop plan” laat vir ‘n volgende reeks. Nou weet jy: die volgende skurk/booswig/kliënt gaan (moontlik) die vader wees. En so is dit dan. Maar wag. Kom ons kyk na presies waarom Carel van der Merwe so suksesvol is.

Die spanningsverhaal word gelaai met persoonlike waarnemings. Ons sien dus die binnelewe van die hoofkarakter en hoe hy ontuis voel binne sy verhouding met ‘n lewensmaat wat pas swanger geraak het. Hy onthou ook sy mislukte huwelik en in die opdrag om ‘n jong meisie se bewegings te monitor, neem hom in donker areas in. Sy gewelddadige optrede – in ‘n onbesonne oomblik aan die begin van die roman – word ‘n ander spanningslyn wat die leser laat voortlees.

Hierdie soort romans word nie om dowe neute nie as “page turners” beskryf, omdat ‘n mens agter die oplossing(s) aanlees. Die eksterne en interne spanninge van die hoofkarakter bepaal dus die plotlyn van die roman. Terselfdertyd is dit meer as spanningsverhaal, omdat die karakter nie bloot oppervlakkig waarneem nie. Die skaduwee van die titel verwys inderdaad na die proses van liminaliteite of grense wat telkens oorgesteek of verken word. In Jungiaanse terme is dit ook dit wat hy probeer onderdruk of verdring in sy quest. Die skrywer gebruik dus die struktuur van die spanningsverhaal wat gelaai word met sterk sosiale en politieke kommentaar soos hoe vreemdelinge voel in Londen en die grondkwessie in Suid-Afrika.

Ek beveel hierdie roman aan vir alle spanningsverhaallesers – daardie tipe wat Le Carré se loopbaan gevolg het en presies weet wat die formules (en afwykings) behels.
Paranoia, emosionele en fisieke uitdagings en die quest maak van hierdie roman ‘n hoogs leesbare teks.

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]