Wednesday, January 23, 2013

Andries Samuel - Wanpraktyk (2010)



Andries Samuel. Wanpraktyk. Human & Rousseau, 2010. Isbn 978 0 7981 5282 2.

Resensent: Joan Hambidge

Met Tempermes het Louis Jansen van Vuuren, wat sopas by Queillerie verskyn het, ‘n nuwe energie in ons digkuns geblaas met sy ongelooflik ruige en energieke verse. Die debuut van Andries Samuel by Human & Rousseau heet Wanpraktyk en getuig weer van intellektuele beheer. Die digter is ‘n argitek en die leser vind sketse en ontwerpe by die gedigte. By Van Vuuren is dit weer die skilder wat kommentaar lewer op sy bedryf.

Die gedig as wanpraktyk dus, as iets wat die grensoorskrydende of onnoembare moet voorstel, is die deurlopende motief in hierdie aangrypende bundel. Dit begin met die wêreld van die oer-Testamentiese en die Hebreeuse digkuns. Die openingsgedig, met sy fyn toespelings op die ou-Testamentiese gegewe van die offer, die weegskaal en die Egiptiese mitologie dat die siel geweeg kan word, eindig so:

ek weeg my daagliks
by die gewig van ‘n kind (12)

Die kind word later in ‘n klein vers as ‘n geitjie beskryf en ons word in Tel Aviv geplaas. Die Olyfwoestyn-vertalings van Ben Gurion en Steyn, soos Olga Kirsch se verse uit daardie landskap, word slim geaktiveer.

“nieu-bethesda” (15) word jammerlik genoeg ontsier deur die woord “sadness”, terwyl kragwoorde, natuurlik vir effek, vir my gevoel soms onnodig opdoen. Waarom tog “omen” en “declaration”?

Ek het dit nie teen Engelse woorde per se nie, maar dan moet ek wel as leser oortuig word dit is funksioneel.

Maar elke digter het sy idiolek, sy eie idiolek. Dieselfde geld die gedig “berigte van herkoms / psalms vir die verste kind” (16, 17). “all god’s children took their toll” (18) word ‘n mosaïek en kan gelees word as ‘n meerstemmige vers.

“blues in yk” (25) gesels met Antjie Krog se bokkie en struktuur van haar koorsange keer terug na Januarie-suite veral.

“styf” (52), draadtrek-vers, word sydelingse kommentaar op die skryfproses. ‘n Mens kan hierdie gedig met Roland Barthes se Le plaisir du texte (Die plesier van die teks) saamlees en presies sien wat die grote Barthes bedoel het met plesier en dit wat buite woorde lê.

styf

met my hande vryf ek my piel
op en af pluk ek dit aanhoudend
ek trek my draad –
ek trek dit uit en volg dit ín
ek pak my piel beet
soos ’n probleem
al skommelend
probeer dit uitkom

ek dink ek tos net lekker
maar angs groei uit my
soos ’n pielstyf –
ek gryp dit soos ’n dwaas
rem dit in plesier
al pols dit van verdriet
tap ek myself leeg
die bietjie ek wat nog oor is
spuit ek weg oor onvrugbare lappe

my handlangerende hande
my onpaar minnaars

Die gedigte beweeg dus tussen die konstruksies van die argitektoniese ontwerpe en die gedig as on-afheid of gesprek met ánder gedigte.  En dis hierdie beweging tussen twee media wat die gedigte interessant maak. Ons lees immers gedigte ook vir die stiltes, nie net die woorde nie, het Harold Bloom al gekonstateer. Die gedig as “wanpraktyk” speel terug op Baudelaire se “blomme van boosheid”. Hier word die gedig ‘n besegging van leed en verlies.

 In “losklim” (36) is die rotsmaniak se tog iets wat die noodlot tart en “onversadigbaar wulp die grond haar dye”. Die gedig word dus méér as net ‘n vers oor ‘n rotsklimmer. Soms is die verse te emosioneel, ‘n bietjie “meningbesete” (37), maar wanneer die gedig oortuig is dit uiters behendig vir so ‘n jong digter. “Enkele tegniese besonderhede oor water” (32) maak ‘n gedig van die digter se bedryf:

ek is ‘n troebadoer
van die wellustige en ingewikkelde geheime
van roes en verrotting

Die digter slaag die toets van die ware digterskap, naamlik om onthoubare, konkrete beelde te skep, wat die leser nooit sal vergeet nie:

teen die hitte wat bak soos ‘n pofadder (68)

my dogtertjie
is ‘n geitjie

sy bak in liefde
soos in son (13)

Daar is knap taalontginnings (“hoekom reik jy jou hand”, 57) en gesprekke met Michael Ondaatje en Anne Michaels, o.a.

Die skoonheid van hierdie bundel is soos by Tempermes geleë in die on-afheid en bruisende energie daarvan.

Dit gaan goed met ‘n digkuns wat soveel uiteenlopende debute kan akkommodeer soos Samuel, Van Vuuren en nou onlangs: Martina Klopper se Nadoodse ondersoek.

[Hierdie resensie het vantevore in Die Volksblad & op SlipNet verskyn.]