Sunday, July 23, 2017

Resensie | Jolyn Phillips - radbraak (2017)

Jolyn Phillips - radbraak. Human & Rousseau, 2017. ISBN 9780798176163

Resensent: Joan Hambidge

Die ding met ‘n shout op ‘n buiteblad van ‘n boek is dat dit jou verwagting van die boek kan beduiwel. Of die advertensiebiljet met ‘n dalk oordrewe aanhaling van ‘n skrywer oor die bundel kan jou laat frons: “’n klein aardbewing van ‘n bundel”, aldus Petra Müller. En: “Hierdie skrywer het die engel in die klip beet.”

Maar hierdie woorde ís welverdiend. Van die buiteblad van Jolyn Phillips se bundel radbraak, ‘n debuut, tot die laaste gedig, eis die aandag-van-jou-oë.

En van al jou sintuie.

Radbraak, soos in geradbraakte taal, kom uit die Middelnederlands raetbraken (om te breek). En breekbaarheid is die kodewoord in hierdie bundel. Ons sien ‘n skets van ‘n slak se doppie. En hier dink ‘n mens aan die gedig “Netwerk” van wyle Prevot van der Merwe:

netwerk

n slakkie oënskynlik blind
seil silwerslymdrade
wat nêrens met nêrens verbind

By Phillips is daar ‘n duidelike taalspel. Met Antjie Krog en die ander digters wat stem gee aan die lot van bruinmense. Clinton V. du Plessis, Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal maak die taal en ervarings  van hierdie leefruimte óóp. En daar is dus ‘n netwerk-tussen-gedigte. Molluske aktiveer baie betekenisse. Positief en negatief in al die assosiasies. (Mollusca - Wikipedia. Besoek 7 Julie 2017).

Daar word “skollietaal” gebruik (“die taal van nommes en pakamisa”) en oor bendes en geweld geskryf. In ‘n lang gedig, “’n geweeklaag” (29 – 33) lees ons van die politieke geweld:

die liggame gebars tot galg en rad
en met horte en stote ter tafel gelê.

Die emosionele uitstortings word word goed in beheer gehou deur die digter se vormbeheer en taalspel.

Daar is refreine, herhalings en ritmes wat die  verse laat voortstu en die leser emosioneel oorrompel.

Dis werkersklaspoësie soos wat gert vlok nel se gedigte dit is. Uit die ellende van werk by ‘n deli (met sy vleise wat assosiasies oproep) en ‘n aansoek aan die UWK, word ‘n hele droewige bestaan vir die leser onthul.

Verdrinking, see-dood, politieke ellendes (die nuwe bestel het geen verbetering gebring vir die armes nie), die potloodtoets, drugs; dit alles kom aan bod.

‘n Motto uit Anne Sexton verklap alles: “I am a collection of dismantled almosts”. Sexton, op haar beurt, het vreesloos die spanninge tussen man en vrou, kind en ouer uitgelig.

En die ongelooflike taal-eksperiment in “Diglossie” (64) is puik.

In die kort biografie lees ons dat die digter ook sangeres is en dit kom duidelik na vore in die gedigte waar die klankmatige ontgin word soos in die gedig “kruiebalsem-liedjie” (63). In “die hotnotsvy” (62) lewer sy navrante politieke kommentaar:

die hotnotsvy die stiefkindsvy
van die windverwaaide kusvlakte
tussengonnabossiestussenfynbos
tussenbietoubossies
sy is die aspoestershand
wat kruip na die violetkroon… (62)

Die emosies is verwerk. Woede en pyn word so half-skuinsweg weergee. Die liefdesverse gryp aan die keel:

jy sê jy soek my in laaie
in laundry in skuldbriewe
jy soek my behalwe
jy soek my: sonder my (48). 

“my ma in C-majeur” (49) speel in op do-re-me; maar die ma herinner die spreker aan see-majeur waarmee die viswêreld van haar jeug in Gansbaai ópgeroep word. Jy ruik en voel en sien alles. ‘n Goeie gedig is immers ook olfaktories. En visueel. En jy kan dit hoor.

‘n Mens sien en hoor ‘n versuipte brommer in ‘n gedig. Van hoe jy waarskynlik nooit die herinneringe aan 'n troebel jeug kan ontkom nie ("oer jirlikheid! Janwap se kind", 54).

Sy myn hierdie ervarings vreesloos - dit is dus waarskynlik 'n outobiografiese ek hier aan die woord.

Hierdie gedigte is soos bokvet in die palm.

Die voorblad is uit Rusland van 1896 deur Igor Golovniov wat iets anders aktiveer: 'n foto van 'n illustrasie; 'n gedig oor herinneringe wat soos 'n illustrasie of skets werk.

Elke gedig in hierdie debuut,  is die moeite werd.  Lees dit!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, July 21, 2017

Polemies | Dertien gebooie vir Afrikaans

AVBOB repliek Regter van der Westhuizen

Die voormalige regter van die konstitusionele hof, Regter Johan van der Westhuizen, se artikel (“Dertien gebooie wat Afrikaans kan red”, 17 deser Media24) behoef reaksie. Nie om die regter se siening van die grondwet nie; daar kan ‘n mens sy interpretasie eer.

Dit is egter wanneer hy met voorstelle kom vir die redding vir Afrikaans, dat hierdie skrywer genoop word tot wederwoord. Die hele kwessie rondom die beskerming van minderheidstale en tale in die spervuur, is kennelik iets waarvan die regter onbewus is. Ek was verlede jaar by die Internasionale Kongres vir Vergelykende Letterkundes (ICLA) in Wenen. Verskeie deelnemers het hul besorgdheid uitgespreek oor die problematiek, o.a. geleerdes uit Indië. In Afrika is daar klein statte waar ‘n laaste geslag nog ‘n inheemse taal kan praat. Matthias Brenzinger aan die Universiteit van Kaapstad doen baie werk om sogenaamde inheemse tale op te teken en te bewaar.

Ek het oor sy boek (mede-redakteur Sheena Shah) gekryf, Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu. Uitgegee deur CALDi, Universiteit van Kaapstad.

Sheena Shah & Matthias Brenzinger met Katrina Esau, Claudia du Plessis en Mary­Ann Prins Vyf mense, waarvan drie susters, is die enigste mense wat nog die N|uu-taal kan praat en ’n groep akademici het hulle gehelp om ’n ortografie vir hulle taal te skep. So sal hulle taal en die geskiedenis bewaar bly. (WoordeWat Weeg/ S. Shah & M. Brenzinger - OumaGeelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu (2016). Besoek 21 Julie 2017).

Die Universiteit van Princeton is eweneens besig met so ‘n bewaringsprojek.

Van der Westhuizen beweer verder met groot stelligheid:
Filistyns, Moabities en Amelekieties het nie oorleef nie. Hebreeus het – vir eeue sonder ’n land, regering of beskermende regstelsel, deur onder meer harde werk en volgehoue studie.
En dis juis die punt. ‘n Taal hoef nie uit te sterf as die mense wat dit praat, omgee nie. Meer nog, ons praat hier van die hoër funksies (soos ‘n wetenskapstaal) en nie patois nie.

Maar waar ‘n mens werklik dink die skrywer weet nie waarvan hy praat nie, is wanneer hy hom ook verder uitlaat oor kanonisering. Koos du Plessis die Hertzogprys vir poësie? Hy was / is ‘n puik liriekskrywer, maar bepaald nie in die liga van ‘n Krog of ‘n Opperman nie. Ek verwys die regter na Harold Bloom se The Western Canon.

Wanneer ‘n persoon van statuur inbeweeg in komplekse kwessies soos taalpolitiek (-ideologie) en kanonisering kan hy bepaald nie anders as om net ‘n persoonlike opinie te gee nie.

Sonder skroom bely hy:
Ek is skuldig. Ek was betrokke by die Universiteit van Pretoria se besluit om Engels (met uitsonderings) as voertaal te gebruik.Tesame met ’n proses van raadpleging op die kampus wat vir almal oop was en waaruit die EFF en AfriForum geloop het, was ek voorsitter van ’n paneel wat aan die universiteitsraad verslag moes doen.
Ek doseer Afrikaans aan die UK waar meertaligheid erken word. Toe ‘n gesiene kollega, Henning Snyman, onlangs oorlede is, het die Monday Paper my eulogie in Afrikaans gepubliseer.

CALDi aan die UK is ‘n sentrum vir Afrikatale en die projek vir meertaligheid word deur my ondersteun – eerder as ‘n siening dat ons almal Engels wil wees en is.

AVBOB is tans besig met ‘n massiewe projek vir die digkuns.

Daar bestaan uit twee dokumentêre programme (een oor die Afrikaanse poësie, en een oor die Engelse poësie) waar daar gepraat word oor die relevansie van die digkuns. Op 1 Augustus word ook ‘n poësiekompetisie gelanseer waaraan sprekers van al elf landstale kan deelneem. Uiteindelik sal daar ‘n webruimte wees waar mense van alle taalgroepe ‘n lykdig of troosgedig sal kan aflaai om te help met die verlies van ‘n geliefde.

En in Augustus 2018, ter herdenking van AVBOB se 100ste bestaansjaar, word daar ‘n bundel met 100 nuwe gedigte deur gevestigde en nuwe stemme gepubliseer, 9 verse in elke landstaal plus een gedig waarvan die identiteit eers dán bekend gemaak sal word.

En hierdie representasie van inheemse tale is ‘n eerste in Afrikaans (Woorde Wat Weeg/Nuus | AVBOB borg die poësie op groot skaal. Besoek 21 Julie 2017).

Hierdie projek bewys hoe kompleks ons samelewing is en dat ons eerder moet fokus op die verskillende tale in ons land, as om terug te val op ‘n gelykmakende, swak Engels. Ons het genoeg ge-mea culpa. Dis nou die hoogste tyd om vooruit te beweeg.

* Ek wou nog sê sal in die volgende tydgleuwe weer op Via uitgesaai word: 22 Julie om 15:30 en 23 Julie om 13:00.

© Joan Hambidge

Tuesday, July 18, 2017

Nuus | AVBOB borg die poësie op groot skaal


Johann de Lange, eindredakteur vir die AVBOB Poësie Projek, Mnr Frik Rademan, CEO van AVBOB, Dr Mantoa Motinyane-Masoko, hoof van Afrika Tale en Letterkunde by UCT, Dr Stanley Madonsela, Direktoraat: Afrika Tale, UNISA, en Daniel Hugo, Afrikaanse redakteur van die AVBOB Poësie Projek



AVBOB is 'n akroniem vir "Afrikaanse Verbond van Begrafnisondernemers".

Die tradisie van die funeraire poësie behels die aanspreek van 'n beroemde of bekende persoon in 'n lykdig. Tradisioneel was die dekorum in hierdie soort gedig om nie die oorsaak van die dood te vermeld nie.

AVBOB se webruimte vir doodsdigte of lykdigte is tydig. Ons leef in 'n land waar moord op mense met 'n besondere hoë insidensie. Die onlangse wreedaardige kaping en moord op die Matie-student Hannah Cornelius het 'n hele gemeenskap in rou gedompel.

Besoekers sal dus nuwe verse kan aftrek rondom die dood van 'n geliefde, ouer, kind of familielid.

Twee dokumentêre oor die poësie is onlangs voltooi waarin digters gevra word of poësie nog ’n plek en betekenis in ons tyd het. Bekende digters soos Antjie Krog, Johann de Lange, Daniel Hugo, Vincent Oliphant, Joan Hambidge en jonger digters soos Hendrik J. Botha, Juanita Louw, Fourie Botha, Bibi Slippers, o.a. het hieraan deelgeneem.

Dié dokumentêre program oor die poësie, Ek wou nog sê, word vanaand om 7:30 op VIA (kanaal 147 op DStv) uitgesaai.

Die aankondiging van AVBOB se borgskap vir poësie word op Mandela-dag, 18 Julie, aan die pers bekend gemaak.

Die borgskap dek ’n poësieprojek wat twee dokumentêre programme (een oor Afrikaanse poësie, en een oor die Engelse poësie), 'n poësiekompetisie vir al elf amptelike tale met 'n spesiale  webtuiste (www.avbobpoetry.co.za) waar goedgekeurde gedigte van deelnemers geplaas sal word, en ook die publikasie van ’n bundel met 100 gedigte wat Augustus 2018 op die herdenking van AVBOB se 100ste bestaansjaar sal verskyn, insluit.

Die poësiekompetise begin op 1 Augustus en sluit einde November 2017. Wat dit veral opwindend maak, is dat al elf inheemse tale ook hieraan kan deelneem.

Dit is die eerste keer wat só ’n projek wat al die inheemse tale so representeer, onderneem word.

Daar sal 'n kontantprys vir die beste gedig in elk van die amptelike taalkategorieë aangewys word – die toekennings sal as die AVBOB-prys vir Poësie bekend staan.

Wanneer AVBOB volgende jaar 100 word, sal 100 gedigte in 'n bloemlesing gepubliseer word – elke landstaal sal sewe gedigte hê wat spesiaal in opdrag vir dié bundel geskryf is, 22 gedigte deur nuwe stemme wat ingeskryf het, en een gedig waaroor daar in hierdie stadium geen inligting gegee word nie. Elke gedig in dié bundel, met die uitsondering van Engelse verse, sal met 'n Engelse vertaling opgeneem word.

Hiermee sal jonger digters die geleentheid kry om naas bekende, gevestigde name gepubliseer te word. Die webblad sal ná afloop van die kompetisie oop bly en digters kan steeds gedigte instuur. Dié wat goedgekeur word, sal op die webblad gepubliseer word, en die digter sal ’n fooi van R300 ontvang. Net nuwe, ongepubliseerde gedigte word op die webblad geplaas. Die gedagte is om ’n databasis te skep waar AVBOB se kliënte gedigte sal kan lees (en aflaai) wat hulle aanspreek.

Gesien teen die agtergrond van koerante se "In Memoriam"- en doodsberigte, vervul hierdie wedstryd en webwerf ’n belangrike funksie.

Poësie artikuleer pyn, onsekerheid en wanneer ons getref word deur die dood, bring dit vertroosting. Verskillende bekende digters tree in die dokumentêr op, ouer sowel as jonger, wat die digkuns as eiesoortige genre onder die loep neem.

Hannah Cornelius (1996 - 2017)

Op 'n foto wagtend
op die Halte na Ewigheid
kyk jy na links,
na die Stasies
genaamd Angs, Vernedering,
Onnoembare ...
agtertoe
daar waar die trein
nooit weer
vir jou sal stop
nie. Nimmer,
nee, nooit weer.
Nou op jou soloreis
met geen retoerkaart
ter hand
reis jy na
Aandblom-is-'n-witblom
digby dusketyd
Blommetjie-vergeet-jou-nie.

Louise Viljoen skryf In Literator, November 1995 oor die tradisie van hierdie soort gedig in navolging van S. F. Witstein se Funeraire poëzie in de Nederlandse Renassaince (1996) waar dit gaan om die lof (laus) van die ontslapene, die verdriet (luctus) en aanvaarding van die dood (consolatio). (’n Retoriese analise van die vyf lykdigte in T.T. Cloete se Allotroop | Literator. Besoek 3 Junie 2017).

Valencia Farmer, Sihle Sikoji, Anene Booysen is enkele name van vroue wat wreedaardig vermoor is. Dan was daar ook die opsienbare moordsaak met Oscar Pistorius en die dood van Reeva Steenkamp.

Reeva

Kon jy weet
daardie laaste keer
by die hekke van die Silwer Huis
en Rooi Badkamer
'n sekuriteitsbeampte
sou Heilige Petrus vir jou speel?
Was daar 'n geel gloed óm
jou gehul, soos Jung beweer,
wanneer ons wetend-onwetend dié oorgang
in volledige eensaamheid, dus solo, maak?
Sou jy kon raai dat die beroemdheid
waarna jy smag jou 'n ereplek sou gee
in die galery langs JFK en Marilyn Monroe?
Jou oë gesluit soos Marilyn s'n
in die Brentwood-lykshuis in Los Angeles;
jou kop oopgeklief nes Jack s'n.
Kon jy dink realiteitstv was net 'n voorspel
tot 'n hofsaak met jou as die aanwesige-Afwesige?
Foto's geneem, selfs uit 'n lykshuis geskaai,
verkoop, vervleg, verpand, versend
met opgeswelde oë asof jy jou verweer
teen die ongerymde, die vervorming;
ja, selfs teen hierdie gedig,
'n vérdere openbare skending.

(Matriks. Human & Rousseau, 2015).

In die slotstrofe van"Allofrasie" uit wyle TT Cloete se bundel Allotroop (Tafelberg, 1985) skryf die digter:

Nooit had so baie jou so lief soos in jou kis nie
al is daar iets onnoemliks wat ons afweer
en al stuit ons teen jou entropie. Jy ignoreer
ons maar jy weet nie wat jy jammerlik mis nie.
Die mistieke groot bruis, die beroerde gewemel
om jou sonder jou. Sien jou in die hemel.

Allofrasie beteken vreemde manier van praat en hierdie gedig aktiveer die impak van die dood as 'n groot gelykmaker. Kortstondig is almal bewus van hul eie dood en is daar selfs versoening tussen mense.

Die dood is die groot gelykmaker.

Die lykdig is ook 'n klaaglied of lament wat vertroosting bring.



* Ek wou nog sê . . . sal in die volgende tydgleuwe weer op Via uitgesaai word: 18 Julie om 19:30, 19 Julie om 07:30, 20 Julie om 13:30, 22 Julie om 15:30 en 23 Julie om 13:00.


© Joan Hambidge